Wat is jou grootste prestasie tot dusver?
Om 'n loopbaan te maak van wat ek van kleins af wou doen - skryf.
Wat is jou idee van volmaakte geluk?
'n Sonsakstappie op die strand saam met my gesin op vakansie.
Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?
Ek het pas by my rekenaar kom sit nadat ek vanoggend 03:30 opgestaan het om te gaan draf en gim, so op die oomblik is ek byna irriterend opgewek en optimisties. Later vanmiddag? Is "vaak" 'n gemoedstoestand?
Wat is jou gunstelingberoep?
Ek wou kleintyd 'n krokodiltemmer word. Om 'n skrywer te wees is fantasties, maar ek dink steeds 'n krokodiltemmer klink cooler.
Wat is jou kosbaarste besitting?
My splinternuwe rybewyskaart wat ek dié week ná die vyfjaarlikse toustaan en tandekners ontvang het.
Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?
My vrou, Elize, en my twee dogtertjies, Mia (12) en Emma (10). Ons skaaphond, Oreo, is net-net tweede.
Wat is jou gunstelingreis?
Wanneer ons gesin die Hilux pak en die pad vat Karoo toe of see toe.
Wat is jou sterkste karaktereienskap?
Ek dink ek is redelik goed daarmee om vas te byt en vol te hou met iets.
Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?
Op my troudag. By die eindstreep van die Comrades. Met die geboorte van my kinders. Die eerste keer toe ek Jurassic Park gesien het. Kleintyd op ons Karooplaas. Die dag toe ek my eerste storie aan 'n tydskrif verkoop het. Vanoggend toe my dogtertjie op pad skool toe by die kar se venster uitleun en roep: "I love you!"
Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?
Pretensieuse mense.
Wat is jou grootste vrees?
Hoogtes en hospitale. (Hoë hospitale.)
Wat is jou grootste uitspattigheid?
Nuwe drafskoene.
Watter lewende mens verag jy die meeste?
Daar's 'n paar Suid-Afrikaanse politici op wie ek waarskynlik nie sal piepie as hulle aan die brand slaan nie, maar daar's geen lewende mens op aarde wat ek aktief "verag" nie.
Waaroor het jy die meeste spyt?
Dat ek nie vroeër begin draf het nie.
Watter talent sou jy graag wou hê?
Ek sou soos Damiano David, hoofsanger van Måneskin, wou kon sing.
Waar sal jy die graagste wil bly?
Op Stormeiland, die denkbeeldige private eiland in die storie waaraan ek op die oomblik werk.
Wat beskou jy as die grootste ellende?
As my kinders siek of ongelukkig is.
Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?
Lojaliteit en 'n lekker humorsin.
Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?
Lojaliteit en 'n lekker humorsin.
Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?
Ek is 'n konflikvermyder van formaat. (So as jy reken ek het ander swak eienskappe, sal ek waarskynlik nie eens met jou stry nie.)
Watter eienskap in ander mense vind jy betreurenswaardig?
Ek het min geduld met mense wat gedurig laat kom of nie hul woord hou nie.
Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?
Dat hulle my uit my dop kan laat kruip. Ek is 'n volslae introvert.
Wie is jou grootste (fiktiewe) held?
Batman.
Wie is jou gunstelingskrywer(s)?
Stephen King, Roald Dahl, Louis Sachar, Kenn Nesbitt, Brian Patten, Roger McGough en hordes ander.
Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?
Google sê ek is amper net so kort soos Napoleon. Tel dit?
Wie is jou helde in die ware lewe?
Die drawwers wat agter hardloop en laaste klaarmaak in 'n padwedloop.
Watter lewende mens bewonder jy die meeste?
Die skrywer Stephen King.
Wat dink jy is die mees oorskatte deug?
'n Sprankelende persoonlikheid. Ek verkies mense wie se persoonlikheid net so dan en wan vonkies afgee. 'n Alewige gesprankel maak my moeg.
Wanneer vertel jy leuens?
My hele gesin weet ek jok as 'n stokperdjie. Regtig.
Watter woord of frase gebruik jy te veel?
'n Uitgerekte suggeluid - iets soos: "Feeeuw!" Ons papegaai aap dit na.
As jy iets omtrent jouself kan verander, wat sal dit wees?
'n Meer sprankelende persoonlikheid, dalk?
Wat is jou gunstelingname?
Mia, Emma, Delores ('n skaap in een van my boeke).
Hoe sal jy graag wil sterf?
Ek en my suster, Telana, het kleintyd 'n makabere fantasie gehad dat ons albei eendag in tamatiesap wil verdrink. Nou dink ek dit sal fantasties wees om 'n grafskrif soos Royal Tenenbaum in die fliek The Royal Tenenbaums te kan verdien: "Died tragically rescuing his family from the wreckage of a destroyed sinking battleship."
As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?
Ek wil volgende keer eerder 'n ding wees. Menswees is harde werk.
Wat is jou motto?
"Play the long game."


















