Joshua na die Reën (JNDR) is die verhoognaam van die musikant en liedjieskrywer Jacques de Villiers.

Wat is jou grootste prestasie tot dusver?
Ek is trots op die pad wat ek met my vriende en familie tot dusver kon stap. En ek dink om ná al die jare steeds te bly soek na die meer in die lewe.
Wat is jou idee van volmaakte geluk?
Tyd saam met die mense wat saam met my die lewe leef.
Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?
Dit wissel van dag tot dag. Ek dink om te kan voel is 'n voorreg, selfs al is dit sommige dae minder lekker as ander dae. Ek dink dis ongesond om heeltyd "bly" te wil voel. Emosies is goeie rigtingaanwysers, so ek probeer net voel waar ek elke dag is.
Wat is jou gunstelingberoep?
Enigiets wat kreatiwiteit verg, of wat jou naby aan die natuur bring.
Wat is jou kosbaarste besitting?
My boek waarin ek al my liedjies skryf.
Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?
Danél de Villiers en die jare word net mooier saam met haar.
Wat is jou gunstelingreis?
Enige backpacking.
Wat is jou sterkste karaktereienskap?
Ek probeer bewustelik lewe.
Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?
Ek is op my gelukkigste wanneer ek tevrede is. En tevredenheid is iets wat jy kry wanneer jy dankbaarheid beoefen.
Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?
As mense swaarkry.
Wat is jou grootste vrees?
Dat ek nie my kinders sal sien grootword nie.
Wat is jou grootste uitspattigheid?
Ek is nie seker wat uitspattigheid beteken nie!
Watter lewende mens verag jy die meeste?
Sjoe, ek hoop nie ek verag ooit iemand nie.
Waaroor is jy die meeste spyt?
Oor niks regtig nie.
Watter talent sou jy graag wou hê?
Dans en teken.
Waar sal jy die graagste wil bly?
In Wildernis.
Wat beskou jy as die grootste ellende?
As jy jou lewe sal leef sonder dat jy weet watter magic daar in jou lê.
Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?
Ek kan 'n ver pad stap saam met mense wat vryheid in hul gedagtes koester. Wat gaan soek vir die geheimenisse. God het die lewe 'n avontuur gemaak en die volheid daarvan lê daarin om bereid te wees om te gaan soek vir dit wat jy nog nie ken nie.
Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?
Dieselfde as vir mans.
Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?
Ek kyk nie so na myself nie; ek dink 'n mens moet jouself liefhê soos wat jy is. As jy 'n eienskap het waarvan jy nie hou nie, beteken dit maar net dat jy nog nie mooi gedink het hoe jy dit vir iets beters kan aanwend nie.
Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?
Dieselfde antwoord geld hier as vir die vorige vraag.
Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?
Dat hulle vryheid in hul gedagtes koester en gaan soek vir die geheimenisse; 'n bereidwilligheid om te gaan soek vir dit wat jy nog nie ken nie.
Wie is jou grootste (fiktiewe) held?
Peter Pan
Wie is jou gunstelingskrywer(s)?
J.R.R. Tolkien, Théun Mares en John Steinbeck.
Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?
Ek hou baie van Ragnar Lothbrok se storie.
Wie is jou helde in die ware lewe?
My broers en my vriende.
Watter lewende mens bewonder jy die meeste?
Mmm, enige mens wat droom en doen.
Wat dink jy is die mees oorskatte deug?
Ek weet nie.
Wanneer vertel jy leuens?
Ek hoop nie ek vertel ooit leuens nie. Maar ek kan soms 'n storie lekker aandik om dit beter te laat klink.
Watter woord of frase gebruik jy te veel?
"Nee maar lekker."
As jy iets aan jouself kan verander, wat sal dit wees?
Ek sal meer genade en geduld wil hê.
Wat is jou gunstelingname?
Anán, Elgin en Lonan.
Hoe sal jy graag wil sterf?
Onder 'n boom in 'n woud, of op die piek van 'n berg. Dit moet mistig wees en my mense moet by my wees. Dan moet hulle my soos 'n Viking op 'n vlot sit en my met 'n brandende pyl aan die brand steek en wegstuur op 'n rivier, en dan moet hulle dans en sing en bly wees. My lewe was mooi, en my God is goed.
As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?
'n Swaeltjie.
Wat is jou motto?
Kyk dieper, veg deur die moeilike en sien dan raak as jy die mooi begin raaksien dat God jou nog altyd liefhet nes jy is, sonder tradisie of vooropgestelde idees. Hy is soos 'n berg en 'n woud en 'n see en 'n donderstorm en ook die winde wat sag deur jou hare waai. Hy is nie in 'n boksie nie, hy is nie in 'n kerkgebou nie. Hy lewe.














