Jürgen Hellberg is 'n akteur en was voorheen in Binnelanders te sien. Hy vertolk deesdae 'n rol in Diepe waters, wat Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET uitgesaai word. Hy beantwoord die Proust-vraelys.

Wat is jou grootste prestasie tot dusver?
Dat my vrou my ná 42 jaar nog nie uitgeskop het nie.
Wat is jou idee van perfekte geluk?
'n Kollega wat al my dialoog namens my leer en opsê.
Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?
Kom ons kyk eers hoe hierdie onderhoud vorder.
Wat is jou gunstelingberoep?
Ek weet nie. Ek't nog nooit 'n "beroep" gehad nie.
Wat is jou kosbaarste besitting?
My bril.
Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?
My vrou en kinders.
Wat is jou gunstelingreis?
Enige reis wat my op vakansie neem - veral as iemand anders daarvoor betaal. Ek is oop vir aanbiedinge van mense wat luukse huise besit op 'n heuwel wat oor die see uitkyk, met 'n groot wynversameling.
Wat is jou sterkste karaktereienskap?
Ek weet wat ek wil hê en vat nie kakie.
Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?
As kind, toe ek in die Drakie-koor in die berge was. As volwassene, my troudag - die Sharks het gewen.
Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?
Afval.
Wat is jou grootste vrees?
'n Valentynsete met Butterbean, 'n Amerikaanse hokvegter.
Wat is jou grootste uitspattigheid?
Petrol
Watter lewende mens verag jy die meeste?
Ek is te oud om om te gee.
Waaroor is jy die spytste?
Dat ek nooit Everest probeer klim het nie.
Watter talent sou jy graag wou hê?
'n Eerste tenoorstem in plaas van 'n tweede tenoorstem.
Waar sal jy die graagste wil bly?
Diep in die Drakensberge.
Wat beskou jy as die grootste ellende?
Whisky en Cream Soda.
Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?
Ek weet nie. Ek hou nie eintlik van mans nie.
Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?
Alles. En dan is hulle boonop mooi ook.
Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?
My gebrek aan geduld.
Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?
Die "So what as ek laat is, ek is nou hier, so wat is die issue"-sindroom.
Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?
Die wyn en tequila wat hulle saambring as hulle kom kuier.
Wie is jou grootste (fiktiewe) held?
Baron Münchhausen
Wie is jou gunstelingskrywer(s)?
Paul Slabolepszy, Aaron Sorkin, Quentin Tarantino en Shakespeare.
Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?
Carl Gustav Jung
Wie is jou helde in die ware lewe?
Kreatiewe mense met dryfkrag. Mense wat hul drome volg en nie tou opgooi nie.
Watter lewende mens bewonder jy die meeste?
Quentin Tarantino
Wat dink jy is die mees oorskatte deug?
Die woke-kultuur.
Wanneer vertel jy leuens?
Tydens onderhoude. (Skuus, dit was 'n grap. Ek het nog nooit 'n leuen vertel nie.)
Watter woord of frase gebruik jy te veel?
Dis lekker om jou te ontmoet.
As jy iets aan jouself kan verander, wat sal dit wees?
My oë. Hulle werk nie lekker nie. Het nog nooit nie.
Wat is jou gunstelingname?
Shireen, Tessa en Tristan.
Hoe sal jy graag wil sterf?
Ek gee nie eintlik om nie, solank ek nie daar hoef te wees wanneer dit gebeur nie.
As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?
'n Skoolhoof se rottang - ek sal rustig teen die muur leun en nooit hoef te werk nie.
Wat is jou motto?
Droom dit, maak dit jou doelwit, sharrup en doen dit.






