Lee-Ann Gerber, wat saam met haar swaer die kykNET-realiteitsreeks Klein paradys gewen het, sluit haar op 6 Julie by Fiësta (Sondae om 18:00 op kykNET) aan as mede-aanbieder. Sy beantwoord die Proust-vraelys.

Wat is jou grootste prestasie tot dusver?
Sjoe, ek sou sê om saam met my swaer aan Klein paradys deel te neem. Dit was 'n eerste op soveel maniere. Ons het baie oor onsself geleer en hoe hard ons onsself fisiek en psigies kon druk om klaar te maak en op 'n standaard waarop ons trots was. Om dan die erkenning as wenners en die prysgeld ook te kon huis toe neem was 'n bonus op die bonus!
Wat is jou idee van perfekte geluk?
Om elke dag te fokus op die klein, alledaagse plesiertjies en oomblikke wat vir jou op 'n unieke manier geluk bring.
Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?
Soos ek hier sit, lê en loer my hoop teks en vrae wat ek moet leer vir my tweede episode by Fiësta vir my. Ek voel opgewonde, oorweldig en baie dankbaar.
Wat is jou gunsteling-beroep?
Ek sal sê wanneer ek eendag genoeg van hulle probeer het om te weet. Wat ek weet, is dat dit gelukkige mense, mooi spasies, praktiese oplossings en 'n diep verhouding met die natuurlike wêreld insluit.
Wat is jou kosbaarste besitting?
Die skilderye, beeldhouwerk, handgemaakte komberse en juwele wat deur my gesin gemaak is en my huis vul met liefde en skoonheid.
Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?
Ek het 'n handjievol hartsmense, familie van bloed en vriendskap, wat my in die eerste paar oomblikke wat ons ontmoet het beter geken het as wat ander mense my in jare leer ken. En natuurlik my hond- en kat-kinders.
Wat is jou gunsteling-reis?
Ek is mal oor reis en wanneer ek net vir 'n kort tydjie in 'n nuwe plek kan wees, doen ek gewoonlik drie dinge: iets tipies vir toeriste - daar is sekerlik 'n rede hoekom almal by die Eiffel-toring opgaan; ek eet iets wat tradisioneel net in daardie plek voorkom; en dan verdwaal ek aspris so 'n bietjie êrens in 'n systraat sodat ek kan sien hoe die locals regtig lewe. Ideaal wil ek drie maande op 'n plek woon as ek reis om werklik te voel hoe mense in daardie kultuur lewe. En dan droom ek om eendag deur Nepal se berge te gaan trek en te paraglide saam met my man.

Wat is jou sterkste karaktereienskap?
Ek probeer om mense regtig te sien en te hoor.
Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?
Tydens my finale jaar in die Stellenbosch-dramadepartement se repetisielokaal. Ek was sterk en in my lyf en kon beweeg en stories vertel.
Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?
Administratiewe take . . . ek kan hulle uitvoer, maar dit vat soveel uit my uit, dis eintlik lagwekkend.
Wat is jou grootste vrees?
'n Lewe van ure in die verkeer sit om ure in 'n kantoor agter 'n rekenaar te sit.
Wat is jou grootste uitspattigheid?
Houtwerkgereedskap.
Watter lewende mens verag jy die meeste?
Verag is nie 'n emosie waaraan ek tyd spandeer nie.
Waaroor is jy die meeste spyt?
Ek het vir baie jare in my lewe so erg gefokus om die mense om my gelukkig te hou dat ek nou nog besig is om te leer hoe om te hoor wat ek werklik wil hê in sekere situasies.
Watter talent sou jy graag wou hê?
Om baie vinnig met begrip te kan lees.
Waar sal jy die graagste wil bly?
Ek wil baie graag in 'n klein intensionele gemeenskap woon, waar huise met natuurlike en herwinde materiale gebou word en waar daar gedeelde groentetuine en werkswinkels en dans en ander gemeenskaplike aktiwiteite is.
Wat beskou jy as die grootste ellende?
Om alleen te voel in die geselskap van geliefdes.
Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?
Goedhartigheid, egtheid en kwesbaarheid.
Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?
Goedhartigheid, egtheid en kwesbaarheid.
Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?
Ek hou daarvan om dinge goed te deurdink en te voel of iets reg sit in myself voor ek oorgaan tot aksie, maar ek kan dus vasval daarin om goed te oordink en dan geen aksie neem nie, wanneer dit soms eintlik baie dringend is.
Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?
Mense wat nie verantwoordelikheid neem vir hul eie optrede en emosies nie.
Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?
Hul egtheid; hulle is wie hulle is.
Wie is jou grootste (fiktiewe) held?
Pocahontas, die Disney-weergawe. Die ware verhaal is maar hartseer en ontstellend - maar my kleindogtertjiehart het by haar geleer dat 'n vrou sterk en vry kan wees en haar diep intuïsie kan volg om die wêreld om haar beter te maak.
Wie is jou gunsteling-skrywer(s)?
Ek is nie 'n kranige leser nie, maar ek het op nodige tye belangrike dinge geleer by onder andere Viktor Frankl (Man's search for meaning) en Robin Wall Kimmerer (Braiding Sweetgrass).

Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?
Mahatma Gandhi - ek is glad nie so sterk in my oortuigings soos hy nie, maar ek identifiseer met hoe sy hart net eenvoudig nie kon aanvaar dat die stukkend in die wêreld om hom "normaal" is nie. En dat hy sonder geweld daarteen opgestaan het.
Wie is jou helde in die ware lewe?
Maya Angelou - sy het deur te fokus op die lig en die mooi in die wêreld, met haar woorde verandering gebring in mense se harte.
Watter lewende mens bewonder jy die meeste?
Jane Goodall - sy het haar lewe toegewy om 'n stem te wees vir dié wie se taal ons nie verstaan nie en wat dit so nodig het.

Wat dink jy is die mees oorskatte deug?
Gemak - iemand wat alle ongemak probeer vermy, is minder geneig om gemaklik te wees as iemand wat periodiek ongemak omhels.
Wanneer vertel jy leuens?
'n Wit leuentjie glip soms in as versagting wanneer ek dink die harde waarheid gaan te seer maak sonder om werklik iets positief teweeg te bring.
Watter woord of frase gebruik jy te veel?
Uhm . . . hectic.
As jy iets aan jouself kan verander, wat sal dit wees?
Hoe besluiteloos ek kan wees as ek te veel opsies het.
Wat is jou gunsteling-name?
Appelliefie is die mooiste naam vir die mooiste vrug.
Hoe sal jy graag wil sterf?
Hopelik saggies in my slaap.
As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?
'n Huiskat wat op 'n plaas woon.
Wat is jou motto?
"Attitude is the difference between an ordeal and an adventure."









