Proust met Marion Holm

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Marion Holm se eenvroustuk is vanjaar by die Vrystaat Kunstefees te sien.
Marion Holm se eenvroustuk is vanjaar by die Vrystaat Kunstefees te sien.

Marion Holm is 'n aktrise. Sy is op kykNET te sien in die tweede reeks van Nêrens, Noord-Kaap en kan ook op 24 Oktober op RSG gehoor word in die radiodrama Ikarus.

Wat is jou grootste prestasie tot dusver?

Dat ek aanhou. Ek is stadig, maar ek hou nie op nie. Met niks nie.

Wat is jou idee van perfekte geluk?

Om dankbaarheid en liefde te voel.

Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?

Ek is so gelukkig!

Wat is jou gunstelingberoep?

Enige beroep waar ek van emosio­nele nut kan wees vir mense. Of dit nou is om hulle beter te laat voel deur hulle te laat lag, of dit is om hulle te troos met outydse huiskos en of dit nou is om net te luister. (Ek wou 'n verpleegster geword het.)

Wat is jou kosbaarste besitting?

My ma se verloofring en my pa se klein porseleinbekertjie waaruit hy as klein seuntjie gedrink het.

Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?

Op aarde is dit Marietjie.

Wat is jou gunstelingreis?

Ek kan nog nie 'n gunsteling kies nie, want ek was nog op min plekke, maar om te reis is een van my gunstelinggoed.

Wat is jou sterkste karaktereienskap?

Ek dink die feit dat ek eerstens ander mense probeer verstaan eerder as wat ek verstaan wil word.

Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?

Daar is nie net een moment wat vir my uitstaan nie, maar dit maak my altyd bitter gelukkig om kos te maak vir mense.

Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?

Om tee of koffie te maak. Ek hou niks daarvan nie.

Wat is jou grootste vrees?

Ag hemel, daar is so baie?.?.?. geweld, dink ek, is my grootste vrees.

Wat is jou grootste uitspattigheid?

Goeie rooiwyn.

Watter lewende mens verag jy die meeste?

Ek is bitter dankbaar dat ek al in my 30's die ongelooflike, positiewe, genesende effek van vergifnis ontdek het.

Waaroor is jy die meeste spyt?

Ag, ek is elke dag spyt oor al die foute wat ek al weer daai dag aangevang het!

Watter talent sou jy graag wou hê?

Om net een sport te kon doen!

Waar sal jy die graagste wil bly?

In Kusweg, Mouillepunt, hoog op in 'n woonstelblok - verkieslik in 'n dakwoonstel.

Wat beskou jy as die grootste ellende?

Swak skoolopleiding. Goeie skoolopvoeding kan 'n lewe máák. Die teenoorgestelde is ongelukkig ook waar.

Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?

Emosionele intelligensie.

Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?

Emosionele intelligensie.

Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?

Dat ek nie kontak hou met my vriende nie, want ek haat 'n foongesprek.

Watter eienskap in ander mense vind jy betreurenswaardig?

Die gebrek om wyer te dink as jou eie emosionele gerief.

Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?

Dat hulle met my uithou.

Wie is jou grootste (fiktiewe) held?

As jy nou nie fiktief gesê het nie, was dit Florence Nightingale. Fiktief?.?.?. uhmmm?.?.?. o, ja! Pippie Langkous.

Wie is jou gunstelingskrywer(s)?

Og, die lys is lank. Van Guy de Maupassant deur Jeanne Goosen tot by Marlene van Niekerk.

Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?

O gits, nee, nie met een nie. 'n Held is 'n dapper mens; ek is nie.

Wie is jou helde in die ware lewe?

Mense met emosionele intelligensie wat dapper genoeg is om op te staan en hulself te wees, sonder enige vrees vir teenkanting, wrywing of verwerping.

Watter lewende mens bewonder jy die meeste?

Malala Yousafzai.

Wat dink jy is die mees oorskatte deug?

Om tough te wees. Suiwer bog.

Wanneer vertel jy leuens?

Wanneer ek iemand nie wil seermaak nie.

Watter woord of frase gebruik jy te veel?

Neee-heeeee!

As jy iets aan jouself kan verander, wat sal dit wees?

Om vreesloos te wees.

Wat is jou gunstelingname?

Milandri, Juanro en Zéan. (Nie regtig oor die name nie; oor hulle "my" kleinkinders is.)

Hoe sal jy graag wil sterf?

Sonder geweld. Met liefde en kindness om my en vrede in my hart.

As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?

Wat dink ek sal dit wees of wil ek wees?.?.?. ek sou graag wou terugkom as 'n ysbeer.

Wat is jou motto?

In plaas van moenie aan 'n ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie, glo ek in die áktiewe een: Dóén aan 'n ander wat jy aan jouself gedoen wil hê.

SPELETJIES VANDAG

CTA