Tracey-Lee Oliver is 'n aktrise en is te sien in die rol van Pam in ‘Diepe Waters', Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Sy beantwoord die Proust-vraelys.

Wat is jou grootste prestasie tot dusver?
Dat ek my familie gewys het dat ek baie ernstig is oor acting en sing. Die feit dat ek al 20 jaar in hierdie industrie is, is my grootste prestasie.
Wat is jou idee van perfekte geluk?
Daar's niks soos perfekte geluk nie, maar ek sê altyd as 'n mens elke klein stukkie geluk en joys deur die dag in jou mandjie sit, dan is jou mandjie aan die einde van die dag vol geluk.
Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?
Op die oomblik is ek 'n bietjie siek, maar al voel ek nie fisiek so lekker nie, is ek happy.
Wat is jou gunsteling-beroep?
Om te sing en te act, en om die twee te combine. Ek is baie bevoorreg om te geniet wat ek doen.
Wat is jou kosbaarste besitting?
My gesondheid, veral noudat ek siek is. Ek het 'n kitaar en klavier wat baie kosbaar vir my is.
Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?
Ek dink tans is ek die grootste liefde van my lewe. Daar is min mense wat die tyd neem om hulself te leer ken en te aanvaar soos hulle is.
Wat is jou gunsteling-reis?
Ek was al in Amerika, Duitsland, Italië, Kenia, Mosambiek en verskeie ander plekke, maar Suid-Afrika bly steeds die beste plek om te wees. Om huis toe te kom, is die beste.

Wat is jou sterkste karaktereienskap?
Ek kan opstaan vir myself as ek so voel.
Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?
Voor die kamera of op die stage. En as ek vir myself kos maak.
Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?
Ek probeer dat dinge my nie kwaad maak nie. Ek is baie passievol daaroor dat almal mekaar altyd moet respekteer.
Wat is jou grootste vrees?
Ek hou nie van slange nie! Maar my grootste vrees is dat ek een oggend op 'n dag wat ons tonele skiet, wakker word met 'n groot puisie op my voorkop.
Wat is jou grootste uitspattigheid?
Klere, beddegoed, goed vir die huis, gadgets. Ek hou veral van lekker beddegoed.
Watter lewende mens verag jy die meeste?
Ek verag niemand nie.
Waaroor is jy die meeste spyt?
Daar's min dinge waaroor ek spyt is, maar die een ding is dat ek nie daar was toe my pa afgesterf het nie. Ek was in Johannesburg, so ek kon nie gegroet het nie.
Watter talent sou jy graag wou hê?
Om al die tale in die wêreld te kan praat.
Waar sal jy die graagste wil bly?
By die see, op 'n eiland.
Wat beskou jy as die grootste ellende?
Dat my pa afgesterf het.
Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?
Iemand wat sy humeur kan beheer en emosioneel volwasse is.
Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?
Alles van 'n vrou!
Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?
My geduld - it's a work in progress!
Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?
As iemand ongemanierd of onnodig onbeskof is.
Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?
Dat hulle my toelaat om myself te kan wees - wat partykeer baie loud is.
Wie is jou grootste (fiktiewe) held?
Frodo van Lord of the Rings.
Wie is jou gunstelingskrywer(s)?
Khalil Gibran.
Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?
Jane Austen - oor die manier waarop sy oor vroue in haar tyd geskryf het.

Wie is jou helde in die ware lewe?
Whitney Houston
Watter lewende mens bewonder jy die meeste?
My suster, Anthea Lynn.
Wat dink jy is die mees oorskatte deug?
Om eerder kind te wees as om reg te wees.
Wanneer vertel jy leuens?
Wat? Ek lieg nie . . .
Watter woord of frase gebruik jy te veel?
Tjommie - almal is Tjommie by die werk, en almal is Tjommie, dis vir my so oulik.
As jy iets aan jouself kan verander, wat sal dit wees?
Om meer geduldig te kan wees.
Wat is jou gunstelingname?
As iemand my volle naam (Tracey-Lee) gebruik, dan voel dit asof ek in die moeilikheid is.
Hoe sal jy graag wil sterf?
Ek sal dit oorlaat aan God om te besluit.
As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?
As 'n meermin.
Wat is jou motto?
"This too shall pass."





