Vicky van der Merwe is die enigste vrou in driekamp wat Suid-Afrika eersdaags by die Olimpiese Spele gaan verteenwoordig. Sy pak haar eerste Spele met geesdrif en dankbaarheid aan, het sy aan Marguerite van Wyk vertel.

Hoewel sy aan al die kwalifiserende vereistes vir vanjaar se Olimpiese Spele voldoen het, was daar altyd daardie tikkie twyfel - niks is tog seker tot die finale aankondiging dat jy jou land in die groen-en-goud by die Olimpiese Spele gaan verteenwoordig nie.
En toe máák Vicky van der Merwe (34), driekamp-atleet van Stellenbosch, dit.
Ons gesels in sitkamer van die Oude Werf-hotel in Stellenbosch. Sy is uitgevat in swart oefendrag en pienk Puma-drafskoene, oë dramaties gegrimeer, met 'n tikkie lipglans, naels swart gelak. Teug fyntjies aan 'n rooi cappuccino. Ystervrou - ál 1,69 m en 59 kg van haar.
Van der Merwe vertel sy het op 9 Junie tydens 'n oefenkamp by die Universiteit van Pretoria die blye tyding gekry dat sy Spele toe gaan.

"Dié aand het ek, my man, Geo, en my skoonouers, Cecile en Riaan Botha, met 'n glasie vonkelwyn feesgevier.''
Sy is die enigste vrou in die Suid-Afrikaanse driekampspan wat in Parys, Frankryk, gaan meeding.
Haar spanmaats is Jamie Riddle en Henri Schoeman.
Hulle vertrek vyf dae voordat hulle op 31 Julie aan die individuele driekamp-item deelneem na Parys. Later sluit die res van haar gesin aan. "Selfs klein Adriaan (twee jaar en vier maande) gaan saam."
Van der Merwe het slegs vyf weke ná Adriaan se geboorte besluit om haar voluit op die Olimpiese Spele toe te spits. Geo, 'n sakeman, televisie-aanbieder en vervaardiger van die program Welvaartskeppers op kykNET, steun haar volkome.
"Dit verg baie opofferings. Ons kan nie laataand kuier of wyn drink nie; 'n mens verbeur dikwels familie-byeenkomste," vertel sy. Maar anders as in vorige verhoudings, wéét sy Geo en sy het sáám die besluit geneem.
"Nie een van ons wil eendag terugkyk en voel ons het geleenthede nie aangegryp nie."
‘Boeremeisie'
Van der Merwe staan soggens vyfuur op en oefen gemiddeld 25 uur per week. "Dis nie maklik om al die balle in die lug te hou nie. Ek moet gereeld reis en werk en beleef mommy guilt."
Toe Adriaan kleiner was, het sy haar soms siek gehuil wanneer sy moes weggaan. Deesdae, wanneer hy 'n vliegtuig in die lug sien, sê hy: "Tatta, Mamma, vliegtuig."
Van der Merwe probeer bewustelik leef. "Ek sien Adriaan nie so baie nie, maar glo aan gehaltetyd. Ek is honderd persent teenwoordig, my selfoon is afgeskakel wanneer ons saam is.''
Dís ook die wenresep vir haar en Geo se huwelik. Een keer per week is hul "afspraakaand'' en dan kuier net hulle twee saam. Soms selfs tuis. Sy beplan haar lewe fyn, juis omdat haar tyd beperk is.
"Ek slaap nege uur per nag, want dit sorg vir energie.''
Die egpaar eet ook gesond. Baie vrugte en groente. "Ek hou van rooivleis, want ek is 'n boeremeisie.'' Van der Merwe eet ook heelwat koolhidrate, omdat sy so baie oefen. "Dit gee krag.''
As eienaar, stigter en mentor van die Stellenbosch Triathlon Squad, haar eie onderneming, bied Van der Merwe gefokusde mentorskapprogramme vir atlete van alle ouderdomsgroepe en vlakke aan. Sy het ook kleiner spesialisgroepe vir buitengewoon talentvolle atlete.
"Dit het my sowat R1 miljoen uit die sak gejaag om aan al die kwalifiserende kampioenskappe vir die Olimpiese Spele deel te neem. Die Suid-Afrikaanse Olimpiese komitee stuur my wel oorsee vir deelname.''
Sy glo Suid-Afrika verloor baie talent omdat die meeste atlete dit nie kan bekostig om self te betaal om aan kwalifiserende wedstryde oorsee deel te neem nie. Sy beoog om borgskappe vir 'n nuwe geslag opkomende atlete te reël.
" 'n Gereelde, gefokusde oefenprogram is die maklike deel. Dis 'n voorreg en tweede natuur.''
Dis die administrasie en uitgawes om bloot te kwalifiseer vir die Olimpiese Spele wat 'n mens soms uitmergel, meen sy.
Haar Olimpiese driekamp-item vir vroue behels 1,5 km se swem, 'n fietswedren oor 40 km en 10 km se hardloop. "Ek plaas geen druk op myself om te wen nie. Dis reeds 'n pluimpie dat ek vir die span gekies is. Ek wil bloot my bes doen. Ek is nie 'n professionele atleet nie."
En nee, sy bekommer haar nie oor die watergehalte van die Seine, waarin hulle in Parys gaan swem nie. "Die media berig baie daaroor, maar ek kan dit nie beheer nie. Daar is alternatiewe planne as dit nie aan standaarde voldoen nie."
Terloops, as die watertemperatuur onder 20 °C is, mag deelnemers in duikpakke swem.

‘Gelééf vir sport'
Van der Merwe het gedurende haar skoolloopbaan aan die El Shaddai Christelike Laerskool in Durbanville en later aan die Bloemhof Meisieskool op Stellenbosch provinsiale kleure in nege sportsoorte behaal: atletiek, hokkie, swem, landloop, tweekamp, lewensredding, gimnastiek en driekamp. Dan was sy ook drie keer wêreldkampioen in biathle - 'n arm van die moderne vyfkamp, wat gewoonlik kort afstande van swem, hardloop en weer swem insluit.
"Ek was nie 'n prefek in matriek nie, ook nie op akademie gefokus nie; ek het gelééf vir sport. Jy geniet mos dit wat jy goed doen. Ek wou slegs 'n A-gemiddelde in matriek behaal en het maar so drie of vier onderskeidings verwerf. Ek is verslaaf aan sport," sê sy.
Dit was haar manier om die aanslae van die lewe te trotseer. "My kinderjare was nogal onstabiel. My ouers het tussen die twee van hulle 'n hele paar keer geskei." Haar pa, Flippie van der Merwe, 'n voormalige WP-rugbyspeler, het gesorg dat al die kinders goed oor die weg kom. Van der Merwe is die laatlam. Sy het 'n halfsuster, Nikki (46), en halfbroer, Philip (38).
"Ek is ontsaglik naby aan albei my ouers en bel my ma, Yvonne, soms ses keer per dag. Sy is baie avontuurlik en het al 800 keer professioneel valskerm gespring. Ek kry my geestesgesondheid van haar; sy is ook baie gelowig. Albei ouers het my sportdrome ondersteun en my geleenthede gegee om dit uit te leef.''
Haar pa, vertel sy, verstaan net een ding, en dit is om te wen.
Ek wou slegs 'n A-gemiddeld in matriek behaal en het maar so drie of vier onderskeidings verwerf.
Teleurstellings
Van der Merwe was eintlik aanvanklik 'n goeie swemmer.
"Dis 'n alleensport, maar leer ongelooflike dissipline."
Op hoërskool besef sy ook atletiek is in haar bloed; dis ook meer sosiaal. Kort voor lank stel iemand driekamp voor. "Stellenbosch is die perfekte plek om driekamp-vaardighede te oefen.''
Sy neem op 15-jarige ouderdom aan haar eerste driekamp-kragmeting deel. Hierna was daar geen keer aan haar nie.
Maar, erken sy, 'n ruk lank sukkel sy met eetsteurnisse en emosionele probleme. Swemmers is soms effe stewiger as ander atlete. En toe sy ernstig atletiek begin oefen, volg sy haar afrigter se raad slaafs en verloor 12 kg in twee maande.
Terugskouend glo Van der Merwe sy het te gou goed gevaar as driekamp-atleet. "Dis nie noodwendig tot jou voordeel nie. Ek het myself te hard gedruk omdat ek te gedrewe was.''
In 2008 vertrek sy as deel van 'n oefengroep met die oog op 2012 se Olimpiese Spele na Brisbane, Australië, op uitnodiging van die Queensland Academy of Sport, met Stephen Moss as afrigter.
"Dit was fantasties," onthou sy. Maar keer op keer ooreis sy haarself en drie keer doen sy klierkoors op.
"Ek was gedáán." Later sukkel sy met twee stresfakture en ondergaan ook 'n heupoperasie.
Tussendeur dit alles het sy 'n regsgraad deur Unisa voltooi.
"Ek moes baie teleurstellings verwerk voordat ek uiteindelik vanjaar vir die Olimpiese span gekies is."
Benewens sportbeserings het 'n paar verhoudings gevou en 'n verlowing is verbreek.
Hoe het sy deur al die teleurstellings gekom?
Van der Merwe vertel sy het haar seer in 'n joernaal verwoord en uit haar foute probeer leer.
Sy loof Geo vir sy steun. "Hy is rotsvas. Soms wonder ek hoe hy dit regkry."
Haar ma se raad het telkens ook deur haar gedagtes gespoel: "Moet nooit toelaat dat wat ander van jou sê, jou beperk nie. Jy kan enigiets doen as jy regtig wil."
Moet nooit toelaat dat wat ander van jou sê, jou beperk nie. Jy kan enigiets doen as jy regtig wil.
‘Genade van Bo'
Mentors soos die langafstandatleet Elana Meyer, Libby Burrell, haar eerste driekamp-afrigter, en Bobby Behan, vriend en spanbestuurder van Specialized Bicycles (Africa), 'n Amerikaanse maatskappy wat fietse en fietsprodukte vervaardig, het langs die pad vir haar waardevolle lewenslesse en raad gegee, vertel sy.
Van kleintyd af het sy baie afrigters gehad, en elkeen het 'n rol in haar loopbaan gespeel.
"Ek kry nog gereeld boodskappe van aanmoediging van elkeen. Ek waardeer dit so dat hulle saam my suksesse vier."
Maar dis haar huidige afrigters wat sy nou veral beklemtoon.
Ernie Gruhn, wat haar afrig in hardloop en fietsry sedert sy 15 was, het nog altyd in haar geglo.
"Ons praat daagliks met mekaar. Ernie het sterre soos Elana Meyer afgerig en is die hardloopafrigter van die huidige Olimpiese driekampkampioen, Flora Duffy van Bermuda wat in 2020 goud in Tokio gewen het."
Die toewyding van Rocco Meiring van die Universiteit van Pretoria, die afrigter van die meeste van Suid-Afrika se Olimpiese swemmers, onder wie Tatjana Smith (Schoenmaker), wat goud vir borsslag by die Spele in Tokio verwerf het, is verstommend, vertel Van der Merwe.
"Danksy hom kon my swem groot hoogtes bereik, want ek het in 'n stadium gesukkel . . . My liggaam het verander nadat ek ma geword het.
"Werner Botha, 'n biokinetikus van die Stellenbosch Akademie vir Sport, sorg dat ek sterk is en dit help ook dat ek nie beserings opdoen nie."
Die afgelope twee jaar het dinge vir haar ongelooflik uitgewerk, sê sy. "Adriaan, die gesondste kind tot nog toe, was een keer die aand voor 'n belangrike kwalifiserende resies vir die Olimpiese Spele, so siek. Hy het oor my gebraak, en ons was heelnag wakker. Ek was ook siek."
Van der Merwe was die volgende dag stokflou en het nie kans gesien om deel te neem nie. Geo het haar aangemoedig om deur te druk. "Dit was net genade van Bo dat ek gewen het."
En nou wag Frankryk. Om haar Olimpiese avontuur behoorlik af te sluit gaan Van der Merwe en haar hele gesin ook uitspan in Chamonix, Champagne en Genève. "Ek kan nie wag om gehaltetyd met Adriaan en Geo deur te bring nie. Hoe wonderlik om tydens ons wegbreek nie drie keer per dag hóéf te oefen nie, maar net wanneer ek wil. Dis ook die eerste keer dat ek en my hele gesin - ma, pa, skoonouers, sibbe, álmal - saam vakansie hou. Hoe spesiaal, amper ongelooflik."
- Van Wyk is 'n vryskutjoernalis van Kaapstad.




















