Stories om beter te verstaan

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Burger se voorblad van 27 Augustus 1966. Die Grensoorlog het van 26 Augustus 1966 tot 21 Maart 1990 in Suid­wes-Afrika, Zambië, en Angola plaasgevind. Dit was nou verweef met die Angolese Burger­oorlog.
Die Burger se voorblad van 27 Augustus 1966. Die Grensoorlog het van 26 Augustus 1966 tot 21 Maart 1990 in Suid­wes-Afrika, Zambië, en Angola plaasgevind. Dit was nou verweef met die Angolese Burger­oorlog.

Die boek Troep: Die dinge wat hulle saamdra verskyn vandeesweek. Willem Jordaan het vir die skrywer, Bun Booyens, gevra wat dié boek anders maak.

Troep: Die dinge wat hulle saamdra(. Penguin, 336 bladsye, R320)
Troep: Die dinge wat hulle saamdra(. Penguin, 336 bladsye, R320)

Die boek in 'n neutedop? Ek het die afgelope twee jaar 'n stuk of 100 veterane gekontak oor wat hulle van diensplig onthou - alles, vandat hulle op skool opgeroep is, totdat hulle twee jaar later­ uitgeklaar het, en daarná. Die meeste army-boeke, hier en oorsee, dek een mens se grootwordreis midde-in 'n oorlog. Met Troep probeer ek om iets van die realiteit van ons diensplig-era op te teken: daardie buitengewone dinge wat gewone seuns beleef het, in hul eie woorde.

Hoekom nou eers die boek? ABBA se musiek was die klankbaan van my dienspligjare. Onlangs, omtrent twee jaar gelede, sien ek toe op TV een van die ABBA-meisies stap nou al met 'n kierie. Ek het besef die tyd staan nie stil nie, ek moet nou aan die gang kom met die boek.

Waarom het jy gehuiwer? In 'n stadium het ek vir my vrou gevra hoekom hou sy en ander vroue nie van army-stories nie, toe sê sy dis soos om iemand anders­ se vakansiefoto's te kyk. Ek was nogal verbaas. Vakansiefoto's? Waar was hierdie vakansie? Maar dit het tog sin gemaak, want army-stories is amper soos daardie skyfiever­tonings wat mens as kind by die bure in hul sitkamer moes gaan kyk: Die Joostes reis na die Hei­lige Land saam met dominee Fanie, en so aan. Dan's daar kiekies van ou geboue en 'n tannie wat in die Dooie See dryf . . . heeltemal ontkoppel van jou werklikheid. Dis maar dieselfde met army-stories, vermoed ek.

Rekrute wag op Braamfonteinstasie op die troepetrein. Tussen 1966 en 1989 is meer as 600 000 wit seuns ná matriek opgeroep vir verpligte militêre diens, aanvanklik vir een jaar, maar ná 1977 vir twee jaar. Foto: Kobus Botma
Rekrute wag op Braamfonteinstasie op die troepetrein. Tussen 1966 en 1989 is meer as 600 000 wit seuns ná matriek opgeroep vir verpligte militêre diens, aanvanklik vir een jaar, maar ná 1977 vir twee jaar. Foto: Kobus Botma

Hoe het jou konsep aanvanklik gelyk­? Ek het dit oorweeg om 'n "Diensplig in 100 Objekte"-boek saam te stel, maar die eerste uitgewer met wie ek gesels het, het gesê dit sal nie werk nie. Toe los ek dit, wat toe eintlik 'n goeie ding was, want ek het besef dis die mense wat moet praat, nie die objekte nie. Maar ook dít wou aanvanklik nie lekker op dreef kom nie, want army-stories is vreemd: Dit beur óf na slapstick óf na tragedie, met bitter min in die middel. Dit het my laat wik en weeg. In daardie tyd lees ek toe toevallig 'n stuk oor Charlie Chaplin waarin hulle hom uitvra oor sy filmtegniek. Hy sê toe dis eintlik eenvoudig: Enigiets wat jy van ver af afneem, is 'n komedie en enigiets van naby is 'n tragedie. Dit was die "ping!"-oomblik. Jy kan hierdie twee soorte army-stories versoen, jy moet net sorg dat jy op die regte afstand staan wanneer jy dit vertel.

Hoe het jy dit aangepak? Ek het interessante vertellings begin soek wat mense iewers op sosiale media of veteranegroepe geplaas het - enigiets, al was dit net 'n enkele sinnetjie. Wanneer jy dan later daardie goed begin orden, kom meld die storielyn homself aan. Skielik sien jy waarheen die verhaal mik. Toe het ek die mense probeer opspoor, en sê maar van Facebook wat jy wil, dit help jou om mense vinnig in die hande te kry. Ek het my dan maar aan elkeen van hulle voorgestel en verduidelik wat ek wil doen.

Het jy geweet presies waarna jy soek? Ja, daardie dinge wat enige ouddienspligtige dadelik sal herken. Almal weet die korporaals het jou destyds verskree, maar ek wou hoor presies wat hul woorde was, want dis die stukkie werklikheid wat sal verdwyn wanneer ons generasie uitsterf. Daarom het ek ook 'n woordelys in die boek gesit. Ek het probeer om met elke vertelling iets sintuigliks te kry. Iemand sou byvoorbeeld sê dinge is chaoties in 'n vuurgeveg. Maar wat hoor en sien jy? Eers wanneer jy dít vra, kry jy daardie sintuiglike antwoorde: Wanneer hulle jou Ratel met AK-47's begin raak skiet, klink dit vir die ouens binne of hulle in 'n popcorn-masjien sit. Een ou wat in 'n landmynontploffing uit sy voertuig geslinger is, het vertel hoe verras hy was deur die uitsig oor Ovamboland se landskap. Hoe wyd en plat alles van bo af lyk.

Grensdiens in die "operasionele gebied" is gewoonlik in skofte van drie maande gedoen, maar talle dienspligtiges is voltyds by grensbasisse gestasioneer.)Foto: Infanterieskool (Santa Clara-grenspos)
Grensdiens in die "operasionele gebied" is gewoonlik in skofte van drie maande gedoen, maar talle dienspligtiges is voltyds by grensbasisse gestasioneer.)Foto: Infanterieskool (Santa Clara-grenspos)

Het die mense maklik gepraat? Ja. Verbasend, in die hele proses was daar letterlik nie een mens wat nie bereid was om met my te gesels nie. Baie van hulle het aanvanklik gedog ek is op soek na stories oor heldedade of groot dramas, maar ek wou eintlik net weet waar hy op Kersdag was, of waar het hy die langste gestaan terwyl hy ryloop, of na watter musiek hy destyds geluister het, of wat in die pakkies was wat sy ma vir hom gestuur het. 'n Hele paar mense het ook op hul eie al van hul ervarings neergeskryf - puik essays wat ek met hul toestemming kon plaas.

Hoe het jy besluit wat om te plaas en wat om weg te laat? Ek was destyds 'n infanteris - 'n voetsoldaat - en jy het eintlik net binne jou eie bungalow en peloton geleef. Niks buite dit was op jou radar nie. Iemand word beseer of gewond, hy word afgevoer en jy hoor nooit weer van hom nie. Ek wou ook met die mense agter daai horison gesels. Almal het destyds geweet die militêre polisie werk jou sake vir jou in die DB - die weermag se tronke - maar presies wat gebeur daar? Hoe het 'n sjef se dag verloop? Hoe was dit om in die Kanaries te sing? Hoe jy reggekom het as jy gehakkel het? Wat het van die mense geword wat in die sanatorium beland het? Hoe hanteer jy dit as jy 'n been - of albei bene - verloor? Hoe was dit vir die mense by die huis om die doodstyding te kry?

Jy sluit elke hoofstuk af met 'n paar doodskennisgewings. Hoekom? 'n Afgetrede kolonel, Graham du Toit, het 'n lys saamgestel van al die sterftes tydens die Grensoorlog, en 'n paar Facebook-groepe plaas dan elke dag die name van die mense wat op dié datum dood is. Die meeste van hierdie kennisgewings is net 'n sin of twee lank, maar dis aangrypend en tragies. Ek wou hierdie element as 'n soort watermerk in die teks behou, want hoe vrolik dinge wel soms was, die dood was nooit nie ver nie.

Afrikaanse veterane was tot taamlik onlangs veel stiller as die Engelssprekendes. Hoekom?

Deels seker maar daardie ou ding van "kinders word gesien en nie gehoor nie"? Maar hou in gedagte, tydens die Bosoorlog was dit teen die wet om te praat, en toe is vrede gesluit omtrent net toe Nelson Mandela vrygelaat is en onderhandelinge begin het - nie die regte tyd om jou militêre prestasies op 'n CV te sit nie. Maar op die ou end is enige oorlog bitter moeilik vertelbaar, want mense se persoonlike ervarings is dikwels groter as die oorlog self, as jy verstaan wat ek bedoel.

Hoe erg is mense getraumatiseer?

Talle mense dra vandag nog trauma saam, want daar was destyds nie werklik be­rading nie. Baie soldate het op civvie-straat beland letterlik drie of vier dae nadat hulle in hewige vuurgevegte diep in Angola was. Dinge is bemoeilik omdat jy ná twee jaar nog nie klaar met diensplig was nie. Jy moes nog iets soos agt kampe van, ek weet nie, 60 of 90 dae elk gaan doen - amper nog twee jaar. Dit was moeilik om die deur agter jou toe trek en aan te beweeg.

Dit gesê, ek dink baie mense het met 'n meer inklusiewe rassebesef van die Grens af terug­gekom as die heersende gevoel destyds op straat in Suid-Afrika. Jy het saam met swart mense geëet, gestort en gebly. Jy het patrollie saam met San-spoorsnyers ge­stap. Ek het nie die syfer hier voor my nie, maar in die 1980's was meer as die helfte van die soldate op die Grens inheemse mense van die destydse Suidwes se gebiedsmag.

Hoekom is veterane dan so nostalgies? Ek dink hulle kyk terug en onthou hoe jonk, fiks en amper bonatuurlik taai hulle was, omring deur vriende wat hul lewe vir jou sou waag. Jy onthou daardie era helderder as enigiets anders in jou lewe, want jy het dit met jou hele wese beleef. Jy was 'n vlees­getuie. Ook, dele van die Grens - Kaokoland, die Caprivi - is eksoties en pragtig. Jy kry beslis nie hierdie soort nostalgie by troepe wat in die '80's in die townships ingestuur is nie. Dis waar­skyn­lik soos iemand op 'n kol gesê het: As jy na die dorp van jou jeug verlang, verlang jy eintlik na jou jeug, nie die dorp nie.

Is die Grenssoldate uitverkoop, soos party veterane sê? Wel, daar was geen "dertiende tjek" vir dienspligtiges nie, geen erkenning in die sin vir twee jaar gratis kon gaan studeer of so iets nie. Die oorlog het 23 jaar geduur en, regtigwaar, ek sien geen werklike teenprestasie wat die politici in daardie twee dekades probeer lewer het nie.

En die mense wat sê FW-hulle het die soldate uitverkoop? Polities? Ek dink nie so nie. Die Grensoorlog het rondom die onafhanklikheidstryd in Namibië begin, en dit het geëindig met 'n demokratiese verkiesing daar. Vandag het Namibië 'n veelpartydemokrasie. Sou Swapo op sy eie die veelpartyroete gevolg het? Ek twyfel. Ek vermoed hulle sou Angola se voorbeeld gevolg het. Was daar 'n makliker en korter pad om die oorgang van die ou Suidwes na Namibië op sy koers te plaas? Waarskynlik, ja.

Wat hoop jy bereik die boek? Die beste berading is om stories te vertel. Dis deel van die mens se wese. Ek hoop mense herken hulself in die vertellings. Ek hoop die vroue en kinders tel ook die boek op en lees dit, want dalk help dit om hul pa of oupa 'n bietjie beter te verstaan.

  • Booyens is oudredakteur van Die Burger en 'n vryskutjoernalis. Jordaan is redakteur van Die Burger.

SPELETJIES VANDAG

CTA