Ná Tyla hoef geen bruin presteerder meer hul komvandaan af te sweer nie, skryf Heindrich Wyngaard.

"En sy is nie skaam om te sê wie sy is nie," skryf @flopp523 onlangs op TikTok oor Suid-Afrika se nuutste sang- en danssensasie Tyla, wat die internasionale musiekwêreld en sosiale media die afgelope klompie maande op loop het met haar treffer "Water".
Nie dat 'n mens sommer sal verstaan waaroor die bohaai nou eintlik gaan as jy slegs na die refrein van die liedjie luister nie. Of miskien moet ek eerder die stelling kwalifiseer en spesifiek verwys na my generasie. Só klink die refrein: "Make me sweat, make me hotter / Make me lose my breath, make me water . . ."
Grootoog-emoji.
Maar heel moontlik is dit eintlik haar energieke en uitdagende danspassies wat ouer mense se oë behoorlik laat rek, terwyl dit veral jonger aanhangers gaande het. Hieroor word in vandag se dae nie veel getob nie; al wat tel, is hoe gou DJ's oor die radio en in nagklubs jou liedjie remix en die getal kere dat jou liedjie op musiekstromingsplatforms, soos Spotify, afgelaai word.
Tyla se "Water" het die rekords op 'n verbysterende wyse laat spat, wat van haar die sensasie gemaak het wat sy nou is. Ons praat van miljoene: In Amerika, waar hierdie soort ding die meeste saak maak, is die liedjie ná die uitreiking daarvan in Julie verlede jaar meer as 6 miljoen keer gestroom, het dit meer as 3 miljoen radioluisteraars se ore bereik en is 1 000 aflaaie daarvan verkoop. En gou-gou is daar meer as 70 miljoen keer na haar dansvideo op YouTube gekyk.
Die musiekwebwerf Music in Africa het "Water" einde verlede jaar as een van Suid-Afrika se topliedjies van 2023 aangewys nadat sy onder meer die toptien van die Billboard Hot 100-trefferlys in Amerika geskok het as die beste vertonende vroulike Afrika-solomusikant van alle tye.

Tot die voormalige Amerikaanse president Barack Obama het die liedjie as een van sy gunstelinge vir 2023 gelys. Wat meer wil jy dan hê? Nou het sy die afgelope Donderdag ook pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede gehaal toe hy verwys het na hoe Suid-Afrikaners "geïnspireer" word deur "die kinders van die demokrasie - deur hul energie, deur hul kreatiwiteit en deur hul entoesiasme".
"Ons is geïnspireer deur die jong mense wat ons hoop op die wêreldverhoog vertoon," het Ramaphosa teen die einde van sy toespraak gesê, "van die Springbokke tot Banyana Banyana, van die heroïese Bafana Bafana tot Grammy-wenners, soos Tyla".
Toe hy aanvanklik op haar nuutste prestasie gereageer het, het Ramaphosa op X geskryf: "@Tyllaaaaaaa, we congratulate you and we celebrate with you. Your win affirms South Africa's sustained success in various international fora. Thank you for your authenticity and for flying the flag."
Ongetwyfeld is sy uiters talentvol met 'n warm persoonlikheid en hope selfvertroue.
Net daar het die president die spyker op die kop geslaan, want dit is haar eiesoortigheid - vloeibaar soos water - wat Tyla laat uitstaan in 'n oorvol mark wat meeding om die aandag en bestedingsmag van musiekliefhebbers.
Wat verder in haar guns tel, naas die meesleurende effek van haar trefferlied, is dat sy in die wêreld van vermaak loshande oor min of meer alle karaktereienskappe beskik wat met 'n hedendaagse superster vereenselwig kan word. Ongetwyfeld is sy uiters talentvol met 'n warm persoonlikheid en hope selfvertroue. Jy sou vreesloos en verskriklik mooi ook kon byvoeg - en dan bespiegel dat Shocking Blue lánk voor haar geboorte reeds oor haar in "Venus" gesing het:
"A goddess on a mountain top
Was burning like a silver flame
The summit of beauty and love
And [Tyla] was her name
She's got it
Yeah, baby, she's got it"
Tot sover die aanhaling uit die liedjie sodat die woke-gees nie soos 'n silwer vlam in ons midde ontplof nie.
Wat egter gemaak het dat die plasing in die openingsparagraaf van hierdie artikel die aandag getrek het, was juis omrede spesifiek swart Amerikaners Tyla met hul wokeness toegetakel het omdat sy haarself in media-onderhoude "bruin" (of dan "Coloured") durf noem het.
Toegegee, in Amerika het dié woord die soort historiese agtergrond gelykstaande aan die raskategorie "Kleurling" en (selfs pynliker) die rassistiese skeldname wat met 'n "k" vir swart mense en 'n "h" vir bruin mense begin. Maar tye verander en jong mense hoef nie saam te dra aan die bagasie van vorige generasies nie - hoewel dit raadsaam is, eintlik noodsaaklik, om 'n bewustheid daaroor te hê.
Solank dié geskiedenisles met empatie oorgedra word en nie deur 'n boelie-geblaf op sosiale media wat nie rekening hou daarmee dat Tyla pas nog 21 jaar jonk was nie. Wanneer sy dus in onderhoude - let wel - gevra word om haarself te identifiseer, beroep sy haar op dit waarmee sy die beste vertroud is. In haar geval is dit die kultuur en gebruike van die gemeenskap waarbinne sy opgegroei het, naamlik die bruin woonbuurt Eldoradopark in Johannesburg.
Jy moenie verwag dat die swart Amerikaners wat so verontwaardig teenoor haar self-identifisering gereageer het veel of enige kennis oor "Eldos" het nie, maar gewis sal hulle jou iets oor Soweto, 'n klipgooi verder, kan vertel.
Wel, bruin Eldoradopark, sal hulle uitvind, dra heel moontlik swaarder as swart Soweto aan maatskaplike uitdagings waarmee Amerikaners vertroud sal wees in swart buurte van stede soos Chicago: Die duiwelse drie-enigheid van bendes, vuurwapenmisdaad en dwelmmisbruik.
In die teorie van Daphna Oyserman en ander word ons daarop gewys dat 'n individu se identiteit beliggaam word deur die persepsie van posisie en plek, rolle wat aangeneem word en die sin van verbondenheid en behoort.
Maar ander navorsers neem dit 'n stap vorentoe deur te beklemtoon dat sodanige identiteit verder vorm aanneem deur interaksie met ander sosiale identiteitsgroepe in ander omgewings.
Te dikwels word daar egter van iemand in 'n posisie soos dié wat Tyla nou beklee, verwag om afskeid te neem van hul kulturele komvandaan. Dit sou tog 'n vorm van verraad wees omdat daar nog soveel ander soos sy is wat in ons land met die albatros van agterdog oor hul vermoëns moet saamleef.
Soos die Kaapse voorslag-rymkletser YoungstaCPT in reaksie op haar Grammy gereageer het: "As jy ernstig gevat wil word as ['n] coloured, moet jy eers iets ernstigs doen vir Suid-Afrika."
Die 22-jarige Tyla het dit verlede naweek in die Crypto.com-arena in Los Angeles reggekry.
Tog het sy die nodige volwassenheid getoon om in haar aanvaardingstoespraak voor die room van die musiekwêreld haar breër Suid-Afrikaanse identiteit voorop te stel. Haar lewe lank, het sy gesê, het sy hiervan gedroom "om meer aandag te vestig op ons kultuur en ons musiek en ons danse - alles só Suid-Afrikaans".
Maar moet dit noodwendig beteken dat sy (afgelei van die titel van 'n joernaalartikel deur die bestuurskundige prof. Glen E. Kreiner van die Universiteit van Utah) die " ‘me' among the ‘we' " nou moet prysgee?
Die antwoord lê in haar verbasing oor 'n Grammy op so 'n jeugdige ouderdom: "Oh my," het sy opgewonde uitgeroep. "What de heck?!"
Sonder skaamte oor haar bruin afkoms of oor haar Eldoradopark-aksent, want dit is wie sy is.




















