"Dit was my oorlede ma, Ivana, wat hom opgepas het," het Ivanka Trump onlangs gesê ná die sluipmoordaanval op haar pa, Donald Trump. Vreemd dat baie mense glo hul gestorwe geliefdes verander nadoods in heeltydse oppassers van hul familie. Dan waak hulle skynbaar oor ons. Die eerste keer was seker nie goed genoeg nie.
Hier op aarde wil niemand eintlik mekaar se heeltydse oppassers wees nie. Vra vir Kain. In Genesis 4 sê hy vir God hy is nie sy broer se wagter nie. Dit gebeur wanneer God wil weet waar is sy broer. Hoekom sal mense dan skielik in nadoodse beskermers wou verander?
Genadiglik leer Openbaring 14 dat ons as gelowiges ná ons aardse lewe rus van al ons aardse werke. Openbaring 6 vertel ons doen dit in God se ewige teenwoordigheid. Daarom is dit 'n veel beter plan om sulke heeltydse oppassery vanuit die staanspoor aan die Here oor te laat. Hier en daar doen Hy dit graag vir al sy kinders. Hier en daar is Christus ons ewige Herder, soos wat Openbaring 7 ook leer.















