Ons ken daardie spreuk "hoogmoed kom voor die val". Dit was Franz Reichelt se voorland op 4 Februarie 1912. Vroeër het hy 'n oorpak ontwikkel om as 'n valskerm te dien. Ná 'n paar mislukte toetse het hy toestemming verkry om 'n pop wat soos 'n mens lyk in dié valskermgewaad van die Eiffeltoring te laat val. Maar toe besluit Reichelt ter elfder ure om self daarmee af te spring. Mense wou hom keer, maar hy was vasbeslote. Ten aanskoue van 'n groot skare het hy hom doodgeval.
Reichelt se vroeëre mislukte eksperimente met sy valskermpak moes hom iets geleer het. Maar dit het nie. Die gevolge was noodlottig. Hardkoppigheid is 'n lewensgevaarlike karaktergebrek. Dit maak mense onleerbaar. Hulle dink hulle kan rof en onbeskof wees soos hulle wil, totdat hulle al hul vriende en familie kwyt is. Hulle dink hulle kan suip soos hulle wil, totdat drank hul lewe verwoes. Hulle dink hulle kan na hartelus dobbel, totdat hulle alles verloor.
Dis hoekom die Here sy voorskrifte aan ons gegee het om ons op die regte koers te hou. Moenie God se opdragte verontagsaam nie. Luister daarna. Leef daarvolgens. Dit sal jou lewe red.















