Ek onthou vandag nog iemand wie se woorde in my siel kom vassteek het. Dit het jare gelede gebeur toe ek nog 'n gemeenteleraar was.
Daardie man wie se woorde my skoongeboul het, het erekleure in alkoholverbruik gehad. Ek het alles probeer - gebede, preke, selfs 'n rehabilitasiesentrum. Niks het gehelp nie. Toe ek weer een aand by sy huis aankom en hom half besope aantref, was ek woedend. "Al wat nog oorbly, is 'n pak slae," het ek gesê.
Toe sê hy: "Jy weet nie wat dit is om drankverslaaf te wees nie. Ek kry so skaam dat jy my gedurig só moet sien. Ek wil nie só leef nie. Moet my asseblief nie afskryf nie."
Daardie woorde het my in een oomblik verskuif vanaf 'n fixer wat hom wou regruk na iemand wat net langs hom moet kom staan. Ek het besef ek kan mense nie verander nie. Ek kan niemand se lydensbeker namens hulle probeer drink nie. Maar ek kan wel met die liefde van die Here aanwesig wees. Ek moet Hom vertrou om te doen wat net Hy kan doen. Die Here raak mense graag op sy eie maniere aan.
Uit die Woord
Daarom, omdat julle God se uitverkore heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld. - Kolossense 3:12















