Die Ou Testament gebeur met stampe en stote. Dit verloop min of meer as volg: God is genadig . . . Israel is sondig . . . God begin oor . . . Israel volhard vir 'n wyle op die reguit pad, maar keer spoedig terug na hul sondige paaie . . . God se hart breek nogmaals daaroor, maar Hy is vir die hoeveelste keer genadig.
Jesaja 54 is 'n sprekende voorbeeld van bogenoemde verhouding van God met sy volk. Ons hoor hier dat God vroeër weggestap het van sy sondige volk, maar nou vat Hy haar terug in liefde (vers 7). Vir 'n kort tydjie wou God niks met Israel te doene hê nie, maar nou ontferm Hy Hom oor haar met 'n liefde wat nooit sal ophou nie. God is steeds sy volk se Verlosser. Hy sal hulle nie vergeet nie. Sy belofte aan Noag in Genesis 6 word selfs in Jesaja 54 op sy volk toegepas. Hy sal hulle nie verstoot nie.
Genadiglik is hierdie woorde in die Nuwe Testament blywend bewaarheid. Die kruis van Jesus het die wankelrige brug tussen God en sy kerk permanent herstel.
Uit die Woord:
Net 'n oomblik het Ek jou verstoot, in my groot liefde vat Ek jou terug. In 'n opwelling van toorn wou Ek 'n kort tydjie niks met jou te doen hê nie, maar Ek ontferm My oor jou met 'n liefde wat nooit vergaan nie, sê die Here, jou Verlosser. - Jesaja 54:7-8





















