Ons hoor dikwels ons moet getuies vir die Here wees. Nogtans is dit vir die meeste gelowiges moeilik. Hoekom? Wel, baie dink om te getuig is om eintlik in ons daaglikse beroep 'n leraar in vermomming te wees wat almal om ons tydig en ontydig moet "bearbei". Of om onbekende mense trompop storm te loop en hulle met geloofsake te konfronteer.
Hoe getuig ons dan reg? Uit Jesus se voorbeeld leer ons dit gebeur heel eerste binne verhoudings. Mense is nie "tref-en-trap"-objekte nie. Ons tref niemand met 'n vinnige preek en gee dan pad na 'n volgende teiken nie. Jesus wys ook aan ons ons moet ander mense respekteer, ongeag wie hulle is. Ons dien mense deur ons tyd, besittings, gawes en talente te deel soos en waar ons kan. As navolgers van die Here leef ons met integriteit.
Ook praat ons stylvol oor ons geloof wanneer ander mense ons daaroor uitvra. O ja, hulle sal dit vir seker doen as ons reg leef vir die Here.
Uit die Woord:
Eerbiedig Christus as Here in julle harte, altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle leef. Doen dit egter met beskeidenheid en respek, met 'n goeie gewete, sodat, wanneer julle beswadder word, dié wat smalend is oor julle goeie leefwyse in Christus, beskaamd kan staan. - 1 Petrus 3:15-16





















