Stephan Joubert: ’n Kosbare Woord-reis

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Armoede en die woede wat mense daaroor teenoor God het, is vir hom “hartverskeurend”, sê Stephan Joubert. Foto’s: MELINDA STUURMAN
Armoede en die woede wat mense daaroor teenoor God het, is vir hom “hartverskeurend”, sê Stephan Joubert. Foto’s: MELINDA STUURMAN

Vergun my vandag 'n stukkie nostalgie ná 'n jare lange reis saam met Beeld in gedrukte vorm.

Hierdie Goeie nuus-rubriek het vroeg in Desember 2006 gestalte gekry. Ek onthou nog ek was in 'n ys-koue New York toe my selfoon lui. Dit was Peet Kruger, eertydse redakteur. Hy wou weet of ek 'n paar weke lank 'n daaglikse rubriek in Beeld oor geloofsake sou behartig. Ek het onmiddellik ja gesê.

Op 12 Desember 2006 het Goeie nuus begin . . . en nooit weer opgehou nie. Dadelik was ek vier dae per week 'n getroue woordteller. Sowat 175 woorde per dag was tot my beskikking. Spoedig het Saterdae ook bygekom, met 'n bykomende 80 woorde.

Dit het uitgeloop op 'n kosbare reis van vyf dae per week 937 weke lank, met bykans 4 000 Goeie nuus-bydraes.

Van die begin af het ek aan myself gesê die rubriek­ is nie die plek om omstrede te probeer wees nie. Vingerwysende prekerigheid sou ook nie deug nie. In elk geval was ek nog nooit tuis tussen mis­troostige godsdienstiges of ongepoetste afvalliges nie. Die evangelie is darem net veels te mooi vir sulke streke.

Goeie nuus het die kollig op die Heer se goedheid laat val. Gedurig het dit hier uitgelek dat dit nie so moeilik is om God en ander mense met vreugde te dien nie. Of om stylvol te leef nie.

Dankie aan Beeld se ruimhartige redaksie vir jul gasvryheid en ruimte in die afgelope 18 jaar.

Dankie aan elke leser vir die wonderlike reis saam. Ek sien uit na die nuwe digitale avontuur.

Soli Deo Gloria.

SPELETJIES VANDAG

CTA