Die moeilikste deel van ons geloof is selfprysgawe of selfopoffering. Dit bots lynreg met die heersende waardes van ons tyd. Kom ons sê dit nog duideliker: Dit bots meestal met ons eie behoeftes en begeertes. In die wêreld waarbinne ons leef, gaan alles oor onsself. Ons behoeftes, ons eise, ons geluk maak die meeste saak.
Ongelukkig het hierdie leefwyse van "me, myself and I" godsdiens geïnfiltreer. Te veel mense se geloof gaan slegs oor wat die Here vir húlle moet doen. God moet voortdurend hul idee van "die goeie lewe" verwesenlik. Die roete van Jesus is anders. Sy pad is een van prysgawe. Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien. Hy vra dieselfde van ons as sy navolgers. Ons is Jesus se diensknegte. Ons is ook mekaar se bediendes en slawe, soos wat Hy ons in Markus 10 leer. Ons ego's mag nooit deur ons selfsugtige behoeftes gevoed word nie. Ons leef nederig. Ons offer op. Ons dien. Ons doen goed op die Jesus-manier. Dan is ons regtig vry.
Uit die Woord
Jesus het hulle na Hom toe geroep en vir hulle gesê: "Julle weet dat hulle wat as heersers oor die nasies beskou word, oor hulle baasspeel en dat hulle maghebbers oor hulle gesag uitoefen. So is dit egter nie by julle nie; maar wie belangrik onder julle wil wees, moet almal se slaaf wees. Want ook die Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie." - Markus 10:42-45















