Sielsdinge

Stille Uur: Volhard, hoop en bid!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Pixabay
Foto: Pixabay

Die Christene in die gemeente van Tessalonika kry swaar en is moedeloos.

Hulle worstel met die vraag na lyding en lees in hulle omstandighede van swaarkry dat die wederkoms van ons Here Jesus op hande is.

Hierdie siening het daartoe gelei dat baie van hulle ophou werk het en net gesit en wag het vir die groot dag van die wederkoms. Met verloop van tyd het hierdie Christene geestelik moeg en moedeloos begin word . . . Wanneer kom ons Here dan om 'n einde te maak aan al hierdie swaarkry en onreg teen ons? Dit is teen hierdie agtergrond dat Paulus 'n brief van bemoediging aan hierdie gemeente rig.

Die hede, erken hy, is baie moeilik en uitdagend - wetteloosheid, magsvergryp, misleiding en afvalligheid. Die antwoord op die onsekerheid van die hede lê in die sekerheid van die wederkoms in die toekoms. Paulus lei hierdie moedelose Christene na Hom wat ewig is, en wat die hede na die toekoms stuur. Ons Here is tans met ons op pad, Hy kom weer. Maar totdat ons Here Jesus­ weer kom? Volhard in goeddoen - dit is jul roeping. Hou vas aan die belofte van die wederkoms - dit is jul hoop.

Bid deurentyd om sterk te staan midde-in die werklikheid van die hede - dit is jul vaste anker. Ons leef vandag, in Augustus 2024, met dieselfde uitdagings van onreg en wetteloosheid as die Christene van destyds in die stad Tessalonika.

Ons worstel ook met die vraag na onreg en wetteloosheid en swaarkry. Ons Here, wat ewig is, ken ons hede. Sy antwoord aan ons bly steeds dieselfde:

  • Volhard in goeddoen - dit is ons roeping midde-in die hierdie stukkende wêreld.
  • Hou vas aan die belofte van die wederkoms - dit bly ons hoop.
  • Bid deurentyd om sterk te staan midde-in die werklikheid van die hede - dit is ons vaste anker. Ons Here regeer nou en vir altyd. - Dr. Fanie van der Schyff in GKSA-dagboek 2024
Stille Uur

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM