‘Skadu’ hang oor beraad in Suidwes: Uitsluitsel word vandag in Windhoek in die Turnhalle verwag oor die rol van ’n buitelander wie se teenwoordigheid “soos ’n skaduwee oor die hele Suidwes-beraad hang”, soos een afgevaardigde dit gestel het. Hy is die Amerikaanse regsgeleerde mnr. Stewart Schwartz . . . lid van die Herero-afvaardiging. Sy naam was nie op die lys van die baie groot Herero-afvaardiging van 50 lede wat vir goedkeuring voorgelê is nie.
Nege sterf in digte rook, 19 beseer: Nege mense is gister naby Amanzimtoti in digte rook dood en 19 beseer in ’n kettingbotsing. Die dooies en beseerdes was almal uit die binneland . . . Vier van die motors wat in die ongeluk was, het uit Transvaal gekom, drie uit Natal en een uit die Vrystaat.
Giftige gas oorval 7 in tonnel: Sewe swart werkers het gister in Durban versmoor deurdat ’n vuur in ’n ondergrondse tonnel in die nuwe landdroskantore uitgebreek het . . . Die 90 meter lange tonnel is gebruik as tydelike pakplek vir konkas verf en ander ontvlambare materiaal.
Seun se maat kap sy vingers af: Vier vingers van Rudie de Kock (3) van Kuruman, wat by sy grootouers, mnr. en mev. J.M. de Kock, op Kareedouw vakansie hou, is in die naweek op ’n vleisbraaiery deur ’n ander kleuter met ’n byl afgekap. Rudie is inderhaas na die Provinsiale Hospitaal in Port Elizabeth gebring, waar dokters daarin kon slaag om een vinger aan te heg. Drie vingers moes afgesit word.
Israel, Egipte teken vir vrede: Israel en Egipte het gisteraand ’n tussentydse vredesooreenkoms onderteken ingevolge waarvan die twee lande beloof om geen geweld teen mekaar te gebruik nie en om hul skietstilstand onbepaald te verleng. Dit word beskou as die eerste stap deur die twee lande op die pad na blywende vrede in die Midde-Ooste.
‘SAP se vertrek strem skikking’: Die skikking van die Rhodesiese vraagstuk is bemoeilik deur die onttrekking van die Suid-Afrikaanse Polisie uit Rhodesië, het die Rhodesiese eerste minister, mnr. Ian Smith, gisteraand in ’n beeldradio-uitsending van die S.A.U.K. gesê.







