Uittreksels

50 Jaar gelede in Die Burger | 12 April 1975

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Plakkers kan Kaap bedreig: 'n Toestand van gevaar ontwikkel naby die lughawe D. F. Malan by Kaapstad, waar meer as vyfhonderd onwettige swart plakkers hulle die laaste paar weke gevestig het . . . Die gebied waarop hulle toesak, is 'n oop terrein wat aan die swart dorp Nyanga grens. Dit is die grootste enkele instroming van plakkers nog in die Skiereiland.

Melkprys: Minister sê nee vir 25%: 'n Verhoging in die prys van melk lyk onafwendbaar, maar dit sal nie so hoog wees soos die 25 persent waarom sommige produsente vra nie, het mnr. H. Schoeman, Minister van Landbou, gesê.

Swart soldate maak geskiedenis: Geskiedenis word vandag oor 'n week gemaak wanneer swart soldate vir die eerste keer sal deel uitmaak van die straatbelyning tydens die inhuldiging van Suid-Afrika se derde Staatspresident, dr. N. Diederichs.

Stormwind, reën tref Kaap: 'n Stormwind wat by tye teen 94,5 km/h gewaai het, het gister die noordelike woongebiede van Kaapstad tot so ver soos Somerset-Wes getref. Bome is ontwortel en tuine beskadig. Die wind het gepaard gegaan met ligte reënbuie. Op 'n kleinhoewe naby Firgrove is 'n bees doodgeskiet nadat 'n boom op die dier geval het.

Nuwe wet sal pornografie bestry: "Die Wet op Beheer van Publikasies wat op 1 April in werking getree het, sal met al sy krag gebruik word om permissiwiteit uit Suid-Afrika te weer," het dr. Connie Mulder, Minister van Binnelandse Sake, gister gesê. Die Regering is nie bereid om pornografie in die land toe te laat ter wille van 'n paar mense wat daaruit sal geld maak nie.

Veelvolkige sport nie oplossing - Ashe: Veelvolkige sport in Suid-Afrika is nie die oplossing nie. Só het Arthur Ashe, die Amerikaanse tennisster, gister in Johannesburg gesê. Hy is vir die derde keer in Suid-Afrika om aan die Clows Classic-tennistoernooi op Ellis Park deel te neem. Veelvolkige sport het vyandigheid onder die verskillende rasse tot gevolg gehad toe dit in die Verenigde State toegepas is, het Ashe gesê.

Advertensie: Farber-Datsun: 1974 Ford Cortina-bakkie plus kappie - R2 195

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM