Al vlieg sy al vir ’n week lank voëlvry rond het die jong witkruisarendkuiken van die Walter Sisulu- botaniese tuin (WSBT) in Roodepoort nog soveel om te verken.
In Junie vanjaar het die bekende WSBT-broeipaar Makatsa en Mahlori se jongste kuiken uitgebroei in ’n reuse nes teen die kranse by dié natuurreservaat en nou kan sy met die wind in haar vlerke binnekort haar eie nes begin skrop.
Dougie Crewe, ’n komiteelid van die Roodekrans Black Eagle Project (BEP), wat saam met hul span al haar groei en ontwikkeling monitor sê sy gaan nog vir so paar maande hier tussen die WSBT-kranse rond sweef terwyl sy leer hoe om te jag en na haarself om te sien.
“Vir hierdie kuiken is ‘kos’ die agterkant van ’n halfgete dassie en nou moet sy leer dat die klein diertjies met wie sy die kranse deel nie net nog diere is nie, maar ’n belangrike deel van haar oorlewing,” het Crewe gesê.
“BEP het verlede jaar ’n foto geneem waar Makatsa en Mahlori se vorige kuiken salig ’n klip gedeel het met drie dassies en hoewel dit koddig is om te sien spreek dié foto boekdele oor die groei en ontwikkeling wat vanjaar se kuiken nog moet deurmaak – sy moet nou meer leer oor haar omgewing en hoe om daarin te oorleef.”
Omdat baie ongewoon is vir meer as een arendbroeipaar om saam in een gebied te bly, gaan dié kuiken wanneer sy volwassenheid bereik ook haar eie heenkome soek.
Die BEP monitor al sedert die 1990’s die gedrag van die witkruisarende by die WSBT en Makatsa en Mahlori het ’n wêreldbekende gesig geword.
Lees ook: Witkruisarendkuiken steek kop uit in Roodepoort | Netwerk24 https://www.netwerk24.com/nuus/omgewing/witkruisarendkuiken-steek-kop-uit-in-roodepoort-20250624
Elke dag kom mense van heinde en verre om meer te leer oor die voëls deur die lens van die BEP-teleskope en sélfs die jongstes kyk met opgewonde ogies na die nuwe kuiken.
Vandeesweek het Gianna de Freitas uit haar stootwaentjie geklim om saam met haar ouma, Tracy Loubser en die BEP-span te kyk na die klein spikkel wat meters ver in die takke van ’n boom sit en rus het.
“Dis amazing om te sien,” sê Loubser.
“Mens kan amper nie glo dat die majestueuse voël daar in die takke maar net ’n paar maande oud is nie.”
Die jong kuiken het vanjaar 97 dae na sy uitgebroei het die eerste keer haar vlerke gesprei en op 18 September omstreeks 8:45 die eerste keer begin vlieg.
Vir Crewe is hierdie proses ’n wonderwerk wat mens elke dag laat besef hoe ongelooflik die natuur is.
As mens kyk na die lewenssiklusse van die arende hier by die WSBT kan mens nie anders as om verwonderd te wees nie. Elke ding gebeur op sy eie perfekte tyd.
“Verlede jaar het die kuiken na 99 dae begin vlieg op die 18de September en as mens terug gaan in ons navorsing is daar jaarliks etlike dae se verskil tussen die kuikens; dan besef mens net weer die natuur bly darem wonderlik.”
fc.pelser@media24.com









