Toets

Is reg in eie hande neem al opsie?

Johan Wepener, Durbanville

Daar is al baie geskryf oor die mislukking van ons land op feitlik elke gebied en terrein.

Sommige bekwame waarnemers klassifiseer selfs ons land as ’n “mafiastaat”.

Die getal moorde wat daagliks in die land gepleeg word, wat die “uithaal” van eerlikes insluit, is al genoeg om dié mafiastaat-klassifikasie te regverdig. Ook die omvang van bedrog en diefstal slaan die asem weg.

Daar is onlangs berig 59 moorde is binne sewe dae in Augustus op die Kaapse Vlakte in bendegeweld gepleeg. Sou jy dit op lang termyn projekteer, word sowat 3 000 mense jaarliks op die Kaapse Vlakte vermoor – ook vroue en kinders.

Dis absoluut skrikwekkend en alles die ANC se skuld.

In ons reg het howe én waarnemers oor baie jare heen gewaarsku dat indien die regering, insluitend die regstelsel, burgers nie kan beskerm nie, mense reg in eie hande gaan neem. Ek reken dis besig om te gebeur.

Pagad G-Force (’n splintergroep van Pagad) het onlangs ’n betoging in Mitchells Plain gehou oor die voortslepende geweld op die Kaapse Vlakte.

Sy slagspreuk was: “One merchant­ (dwelmhandelaar), one bullet, one gangster, one bullet.”

Zainoneesa Rashid, sekretaris van Pagad G-Force, het openlik gesê die polisie misluk “and we need to take back our streets”.

Prof. Firoz Cachalia, waarnemende minister van polisie, het openlik erken die polisie het geen plan om die bendes te stuit nie. So wat dan nou?

Die geskiedenis het ons sekere duur lesse oor Pagad geleer. Vigilante-optrede is verkeerd, maar dit is maklik vir ons wat ewe gerieflik en bevoorreg in, sê nou maar, Durbanville en omstreke woon, om te oordeel.

Hoe tree ’n mens op as jy en jou kinders dit nie op straat kan waag nie, want mense – oud en jonk – word op straat sonder rede­ doodgeskiet. En dis nie een voorval nie, maar duisende!

Die familie van sulke vermoordes ervaar net soveel trauma en droefheid as die familie van enige ander vermoorde elders in die land. ’n Mens is mens, ongeag waar jy woon en wie jy is.

Ek kan nie genoeg smeek dat elkeen van ons burgers elke dag een mens daarvan oortuig om nie vir die ANC te stem nie, maar vir ’n party wat orde in ons land kan bring – as so iets enigsins nog moontlik is.

lesersbrief

CTA