Suid-Afrikaanse matrieks het Donderdag hul potlode skerp gemaak vir die eerste Engels-vraestel van vanjaar se eindeksamen.
Terwyl hulle droom van matriekvakansies in Plettenbergbaai en volgende jaar se studie, het die leerlinge van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria saam met hul eweknieë van oor die land heen met opstelle en ander skryfstukke gestoei.
Die Engels eerste addisionele taal-vraestel was hier en daar uitdagend en sou bietjie kopkrap geverg het om die prentjies en temas in woorde te omskep. Tog meen Sonja Posthumus, Nicolas du Plooy en Minnie Siluma die vraestel was “heel billik”.
Vir Nicolas, soos vir baie ander, was die grootste uitdaging van sy matriekjaar om ’n goeie balans te vind en nie “té hard op homself te wees nie”. Hy sê hy is dankbaar dat hy een eksamen reeds van die rooster kon afmerk.
“Darem was vandag net opstelle en ek dink dit was eintlik maar net ’n briesie teenoor die storm wat op pad is,” sê hy.
Minniesê hoewel sy nie baie voorberei het vir hierdie vraestel nie, het sy tog haar onderwyser se raad gevolg en vooraf deur haar beste opstelle van die afgelope jaar gewerk sodat sy dié skryfstukke kon aanpas by Donderdag se vraestel.
Sonja het op haar beurt gesê hoewel sommige van die prente in die vraestel uitdagend was, het dit ’n goeie geleentheid geskep om kreatief te raak.
Sommige leerlinge het reeds Woensdag met 2025 se Nasionale Seniorsertifikaat-eindeksamen begin, voor die eerste groot vraestel Donderdag geskryf is.
Die matrieks skryf Vrydag hul eerste Afrikaans-vraestel.
– fc.pelser@media24.com








