Dis moeilik om te glo die pas bekend gestelde MG3 stam van die Rover Streetwise af, maar ja, dié Chinees vervaardigde buksie had as oorsprong die Brits-geboude Rover 25 (en sy MG ZT-genoot) – destyds die grondslag vir die Streetwise, wat ook kortstondig ter plaatse beskikbaar was.
Streetwise-produksie is in 2005 gestaak met MG Rover se bankrotskap, en met die Chinese motorreus SAIC se oorname van die Britse maatskappy is die Streetwise, nou die MG3 SW genoem, in Nanjing, China, gebou, maar alleenlik vir die Chinese mark.
Weens MG se tweede onttrekking aan Suid-Afrika het dié model se opvolger, net bekend as die MG3, dit nooit hierheen gemaak nie, maar nou is die derdegeslag-MG3 hier bekend gestel – ’n anderhalf jaar ná sy wêreldbekendstelling op die Geneefse motorskou en agt jaar nadat MG die land (weer) verlaat het.
Kraakvars met die jongste tegnologie is dié knaap, wat in die kwynende luikrug B-segment meeding teen modelle soos die Volkswagen Polo Vivo, die Mazda2, die Hyundai i20, asook die Suzuki Swift en Toyota Starlet, behalwe normale petrolaandrywing ook met ’n hibriede dryfstelsel beskikbaar.
So lyk die reeksHierdie vierde MG-model – naas die ZS, HS en batterygedrewe Cyberster – is in twee afwerkingsvlakke, Comfort en Luxury, beskikbaar, met die petrolmodelle (met ’n vyfgang-handrat- of palwisselkas) wat in albei vlakke kom, wyl die hibriede model (MG se Hybrid+-tegnologie maak sy buiging in dié model) net in Luxury-gewaad hier aanland.
Die nuwe MG3 is gegrond op ’n nuwe platform en visueel is dié kompakte luikrug met sy skerp neus, LED-hoofligte (Luxury-afwerking), LED-dagryligte, sportiewe profiel, klein drukvlerk en netjiese agterstilering ’n heel aantreklike ryding.
Sy ontwerp openbaar ook sterk familietrekke met die HS en Cyberster EV, en sy 16-duim-wiele is ’n kopknik vir die sportiewe inslag van vervloë dae se MG’s.
In pas met verwagtinge van Chinese rygoed kom die kompakte luikrug met ’n lang lys standaard-toerusting en -stelsels.
Die topmodel het onder meer ’n verkeersknoop-waarskufunksie. Aanvanklike indrukke van bougehalte en afwerkings, wat twee digitale skerms en Apple CarPlay/Android Auto-aanpasbaarheid insluit, asook stuurwiel-kontroles, ’n drukknop-aansitter en ’n trukamera, was heel positief. Ander standaard-kenmerke sluit in klimaatbeheer, ’n banddruk-monitorstelsel en togbeheer.
Die Luxury-modelle kry nagemaakte leerbekleedsel vir die sitplekke, ’n ses-luidspreker-klankstelsel, aanpasbare togbeheer en ’n trukamera by.
Outomatiese hoofligte, sewe lugsakke, en ’n rits veiligheidsfunksies is ook als standaard in die premium-modelle.
Pakruimte volgens MG is 293 liter wat aangroei na 983 liter met die agtersitplekke opgeslaan.
Slim hibried maak sy buigingDie “normale” viersilinder-petrolenjin lewer skaflike krag, en die palwisselkas werk heel glad, maar selfs al was geraasvlakke in die algemeen laag, was die enjin goed hoorbaar wanneer dit nodig was om te versnel.
Die Hybrid+-dryfstelsel in die topmodel, wat ’n 1.5-liter-enjin kombineer met ’n e-motor, is die eerste konvensionele hibried-stelsel in ’n MG.
Ons eerste kennismaking met dié model was half teleurstellend, want in ons toetsmotor was die wisselings van die stelsel se unieke driegang-ratkas duidelik voelbaar en was die kraglewering beslis teleurstellend.
Volgens MG had dié spesifieke motor nie die jongste sagteware vir die Hybrid+-modelle nie, en ja, hierdie probleem was nie aanwesig in die motor wat ons die volgende dag gery het nie.
Tog, selfs in Sport-modus het dit steeds nie gevoel of daar 155 kW onder die enjinkap is nie, en ons vermoed dis maar klein Chinese perdjies wat die werk moet verrig. Verbruik was egter goed, tot so laag as 5,9 liter (MG maak aanspraak op ’n syfer van 4,3 liter).
Sportiewe hanteringHoewel kraglewering nie aardskuddend was nie, het die Chinese luikrug daarvoor opgemaak met sy heerlike, sportiewe hantering en dinamika (in pas met die agthoek-kenteken se geskiedenis), danksy die insette van MG se ingenieurs in Brittanje.
Dis grotendeels te danke aan die MG3 se rigiede onderstel en relatief lae “ongeveerde” massa.
Die klankdemping-stappe wat ingestel is, dra verder tot die lekker rygerief by.
Ja, die veerverstellings is dalk effens te stram vir ons slegte, slaggat-bestrooide paaie en gruis, maar op goeie teer is dit net ’n plesier.
AfsaalIn ag genome sy hoë spesifikasie- en toerustingvlak, aanvaarbare verrigting en hantering, en mededingende pryse wat wissel tussen sowat R270 000 vir die intreemodel tot R470 000 vir die topmodel, asook MG se omvattende sewe-jaar/200 000 km-waarborg en drie-jaar/45 000 km- diensplan, bied die nuwe MG3 nou ’n stewige alternatief.
















