Bekommernisse oor die aanwending van die Mirror Trading International (MTI)-fonds vir regskoste, insluitend die aanstelling van internasionale firmas soos Farrer & Co, wat ook die Britse koningshuis verteenwoordig, is volgens die MTI-aksiegroep een van die redes waarom hulle meer deursigtigheid van die gesamentlike likwidateurs eis oor uitgawes wat uit die fonds gemaak word.
Die MTI-aksiegroep voer aan Farrer & Co het reeds in sekere gevalle litigasie namens die boedel verloor en dat kostebevele teen die fonds gemaak is. Volgens die groep moes dié kostes moontlik eerder tot voordeel van krediteure aangewend geword het.
Die MTI-aksiegroep stel dit voorts dat die gesamentlike likwidateurs voortgaan om Farrer & Co te gebruik ondanks hul kommer dat ’n beduidende deel van die fonds reeds aan regskostes bestee is en dat sekere eise, volgens die groep, ná die verstryking van die Suid-Afrikaanse verjaringstermyn in Brittanje ingedien is. Die groep meen dat dié stappe die bates verder in gevaar stel.
Hulle waarsku teen moontlike verjaring van eise wat kan lei tot verdere verlies van krediteurebates as gevolg van regskostes.
Luidens dokumentasie waarop die groep staatmaak, was die fondssaldo in Maart 2021 meer as R1,1 miljard, maar teen Desember 2024 glo hulle was dit om en by R550 miljoen – ’n afname wat, volgens die groep, aan hoë regskostes en ander uitgawes te wyte is.
Dit is egter nie onafhanklik bevestig deur die gesamentlike likwidateurs nie.
Luidens kommunikasie tussen die gesamentlike likwidateurs en Anton Lee, stigter van die MIT-aksiegroep, word hulle (die likwidateurs) daarvan beskuldig dat hulle onverskillige besluite geneem het om sake in verskeie buitelandse howe aan te pak.
Eers moes daar aansoeke ingedien word sodat hulle regstatus in die onderskeie lande kon bekom. Van die sake het ook op kostebevele teen hulle (die likwidateurs) uitgeloop.
Luidens Lee se brief is dit reeds openbaar gemaak dat die likwidateurs R113 miljoen bestee het aan regs- en ondersoekkoste, met R135 miljoen wat opsy gesit is vir addisionele koste.
“Maar minder as R14 miljoen in waarde is al verhaal vir krediteure. Tot op hede is daar nog geen restitusie aan enige slagoffers van MTI verleen nie,” sê Lee.
Hy sê die wanbalans tussen uitgawes en verhaling is onaanvaarbaar.
Susan Strydom, prokureur van die gesamentlike likwidateurs, is op 26 September om kommentaar genader oor verskeie aspekte wat Lee geopper het, insluitend die uitgawes op internasionale vlak. Nadat Netwerk24 weer Dinsdag om reaksie gevra het, is geen terugvoering ontvang nie.
Wat Strydom wel twee weke gelede aangestuur het, was korrespondensie tussen haar en Lee.
In haar antwoord bevestig Strydom R163 108 144 is plaaslik ná 690 skikkings verhaal.
Op internasionale vlak is R22 555 728 in sewe jurisdiksies in 52 skikkings verhaal.
In Suid-Afrika is 5 000 dagvaardings uitgereik aan beleggers wat meer as R100 000 onttrek het en 29 000 dagvaardings aan beleggers wat minder as R100 000 onttrek het. Die doelwit is om sowat R34 miljard te verhaal.
In verskeie provinsies is 1 450 aansoeke om bestekbevele ingedien en met die onderskeie howe is ’n proses probeer bewerkstellig waar die sake vinniger gehanteer kan word.
Internasionaal is eise in 30 verskillende jurisdiksies teen 571 beleggers ingedien om R3,52 miljard te probeer verhaal.
Sy voer verder aan dat daar op albei fronte gesukkel word om beleggers na te spoor en te identifiseer, wat die proses dus ook vertraag.
Eise is wel suksesvol in vier jurisdiksies teen 152 beleggers ingedien, waar R1,76 miljard verhaal is.
Ingevolge een van die omsendbriewe sê die likwidateurs 9 412 eise is ingedien.
Volgens hulle poog hulle om so vinnig as moontlik te werk om die tweede likwidasie-en-distribusierekening te finaliseer.
Kassie:
Lee het in 2020 ’n aansoek om MTI te laat likwideer by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien en aangevoer Johann Steynberg, baasbrein, het dit as ’n Ponzi-kriptoskema bedryf.
Die hof het MTI uiteindelik gelikwideer en bevind dis ’n onwettige skema, met die meester van die hof wat daarna likwidateurs aangestel het om te bepaal of enige geld verhaal kan word en indien wel, om dit te doen.
Herman Bester, Christopher Roos, Jacolien Barnard, Deidre Basson, Chavonnes Cooper, Kevin Titus, Daniel Ndlovu en Adriaan (Riaan) van Rooyen is as likwidateurs aangestel.
Van Rooyen is in September dood.















