Baie van ons het soos perde met oogklappe aan geword. Ons sien net die tragiese en ontstellende om ons raak. Die treurige ANC en sy meelopers, die tam ekonomie, bedrog, misdaad, bendegeweld, ontvoerings, onreg teenoor vroue. ’n Nimmereindigende lys wat Suid-Afrika as mislukte staat en vervalle samelewing onweerlegbaar uitbeeld.
Sien ons dan nie meer die mooi om ons raak nie? Elma Smuts se lesersfoto van die gloeiende kanolalande in die Overberg en Gerhard Kroukamp se lesersfoto van die Namakwalandse blommeskouspel buite Kamieskroon (26.08) is sprekende voorbeelde van dit wat ons deesdae miskyk. Ons is so ingesteld op die negatiewe dat ons Skepper se prag besig is om om ons te verwelk.
Verlede Sondag het ds. Marius Breytenbach van die NG kerk Stellenberg sy inspirerende preek oor hoop juis begin met pragtige foto’s van die kanola-lande aan die Klipheuwel-kant van Durbanville, asook ander foto’s met Tafelberg en Leeukop as agtergrond. Skilderdoeke van uitnemendheid.
Sy betoog het juis oor my bostaande “aanklag” gegaan – “Ek is uit pas uit . . .” Groter en belangriker dinge is om ons aan die gebeur en ons sien dit nie raak nie. Ons eie krisisse en die land se krisisse oorheers ons denke en bestaan. Dit is onnodig.
Ons moet weer “in pas” kom.
Ek en my vrou beplan juis om die koms van die lente te vier deur ’n Kaapse draai deur die Overberg se kanolalande te gooi.
Dit is dan ook my lentewens vir almal om die blomme om hulle ’n slag weer raak te sien.
Soete lafenis vir ’n moeë siel!















