
Die regering gaan glo maatskappye vra om vrywillig 3% van hul inkomste vir die omstrede Transformasiefonds te betaal. In ruil daarvoor beloof hulle ’n hoër swartbemagtingstatus, wat dit vir maatskappye makliker sal maak om met die staat sake te doen.
Verskeie regeringsbronne beweer hierdie geelwortel sou verlede week deur Parks Tau, minister van handel, nywerheid en mededinging, aangekondig word om deelname van private maatskappye aan die Transformasiefonds aan te moedig. Die aankondiging, waartydens ’n nuwe naam vir die fonds glo ook onthul sou word, is egter op die nipper afgestel.
Die Transformasiefonds, waardeur die regering met die hulp van die private sektor R100 miljard wil insamel, word deur die regering geoormerk om swart sakeondernemings by te staan met ekwiteitsfinansiering, skuldverligting en toelaes. Dit sal deur die Nasionale Bemagtigingsfonds bestuur word.
Tau het in Januarie in antwoord op ’n parlementêre vraag gesê dit sal gefinansier word deur verdere kodes vir breë swart ekonomiese bemagtiging op die private sektor af te dwing.
Maatskappye word ingevolge die swartbemagtigingskodes verplig om die ekwivalent van 3% van hul jaarlikse netto wins ná belasting by te dra vir die ontwikkeling van swart verskaffers, het Tau in antwoord op ’n parlementêre vraag van Toby Chance, DA-LP, gesê.
Entiteite sou ook verplig word om tot die Transformasiefonds by te dra as hulle wil voldoen aan die bemagtigingskodes soos in die wet vervat. Maatskappye wat nie aan die sektorkodes voldoen nie, kan beboet en in die toekoms uitgesluit word wanneer staatskontrakte uitgedeel word.
Die nuwe plan van die regering poog egter om maatskappye te kry om vrywillig by te dra, het twee regeringsbronne op voorwaarde van anonimiteit aan Rapport bevestig.
Indien die maatskappye die bydrae van 3% van hul bruto inkomste vrywillig aan die Transformasiefonds maak, sal hulle beloon word met outomatiese vlak 3-erkenning wat dit vir sulke maatskappye makliker maak om sake met die staat te doen.
Hierdie erkenning kan tot vlak 1 verhoog word indien die maatskappy boonop aan vereistes vir gelyke indiensneming voldoen, beweer Rapport se bronne.
Die regering hoop glo dat hierdie bemagtigingsgeelwortel sowat 15% van ongenoteerde maatskappye sal oortuig om ’n bydrae tot die Transformasiefonds te maak, wat volgens die regering tot ’n bydrae van R40 miljard per jaar kan lei. Dit sal beteken dat Tau sy mikpunt van R100 miljard vir die fonds binne drie jaar haal.
Die bydraes sal aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens betaal word, met Jan Taks wat dan die bemagtigingsertifikaat sal uitreik.
Volgens die DA is Tau egter reeds besig om voorbrand te maak vir die mislukking van sy “vrywillige bydraes” deur vir ’n lening van tussen R34 miljard en R50 miljard te wil aansoek doen by die African Export-Import Bank (Afreximbank).
Die departement van handel, nywerheid en mededinging het die afgelope week vir parlementêre goedkeuring gevra om by hierdie bank aan te sluit sodat ’n laer leenkoste aangegaan kan word by dié bank.
Volgens die departement het hy reeds goedkeuring van die kabinet en staatsregsadviseurs vir die skuif verkry. Dit kort egter nog goedkeuring van die parlement en die departement van internasionale betrekkinge en samewerking.
Hierdie lening sal dan aan die Transformasiefonds oorbetaal word.
Chance, DA-woordvoerder oor handel, nywerheid en mededinging, sê dis duidelik dat Tau nie glo dat maatskappye by sy “vrywillig bydrae” sal inkoop nie.
“Pleks daarvan om die aftog te blaas, wil hy nou miljarde leen wat gewone belastingbetalers sal moet betaal as die fonds se lenings misluk,” sê Chance.
“Dit is reeds baie moeilik om ’n klein onderneming in Suid-Afrika te bedryf, met hoë koste, burokrasie en onbetroubare dienste. Die kans dat baie van hierdie lenings nie terugbetaal sal word nie, is hoog. Om miljarde vir die Transformasiefonds te leen, is dus riskant, onverantwoordelik en kan die Nasionale Tesourie met groot voorwaardelike laste belas.
“Die doel van lenings van Afreximbank moet wees om Suid-Afrika se uitvoer te versterk, plaaslike firmas toegang tot groot projekte te gee en die ekonomie te laat groei. Enige geld wat ons leen, moet uitvoer- en infrastruktuurprojekte finansier wat werk en mededingendheid skep, nie die ANC se ideologiese skemas nie.”
Die regering het nie op navrae gereageer nie.
Die ministers in beheer van die ekonomie gaan nooit die pyp rook nie en dis nou tyd vir nuwe bloed, sê Ryk van Niekerk, redakteur van Moneyweb en aanbieder van RSG Geldsake, aan Tim du Plessis, Dawie Boonzaaier en Liezel de Lange.
Luister hier na die gesprek op Politieke Rapport:
5094






