Johan Roos, Nuweland
Ek het onlangs met ’n bedroefde pensioenaris in sy laat 70’s gesels wat my vertel het van R45 000 wat uit sy bankrekening verdwyn het – of eerder gesteel is.
Die bank het ondersoek ingestel en bevind dit is sy skuld, maar tog aangebied om hom R15 000 terug te gee. Hy moes dié aanbod binne drie dae aanvaar, seker in die hoop om so gou moontlik van hom ontslae te raak.
Hy het toe gaan kla by die bankombudsman, wat in die guns van die bank beslis het – in ’n brief wat amper woord vir woord dieselfde as die bank s’n was!
Geld raak gereeld weg uit bankrekeninge, en sekerlik kan dit nie 100% van die tyd die kliënt se skuld wees nie?
Ons lees gereeld van die groot winste wat banke maak. Sekerlik sou om R45 000 terug te besorg aan ’n arm bejaarde, ’n kliënt van meer as 40 jaar, die regte en goedhartige ding gewees het om te doen, in stede daarvan dat hy nou nagte wakker lê en wroeg en wonder hoe hy nou sy maandelikse uitgawes gaan betaal.





