Toets

Wat’s die punt van nog ’n tienpuntplan?

Vryburger sien erge swarigheid vir die ekonomie, veral as pres. Cyrilski Ramaphoskof nou beoog om die sterwende pasiënt met ’n “ekonomiese oorlogskamer” te red.

Die ANC en Cyrilski se geskiedenis met “oorlogskamers” is immers ietwat bedenklik om die minste te sê. Só byvoorbeeld was Cyrilski (destyds adjunkpresident) aan die hoof van die Eskom-oorlogskamer om elektrisiteit reg te ruk, net om verder deur die Guptas gesaboteer te word. Tog glo hy vas ’n “oorlogskamer” gaan die goeie mense van Suid-Afrika oortuig dat beter dae op pad is.

Dan was daar natuurlik ook die ANC se “klandestiene verkiesingsveldtog” in 2016 se plaaslike verkiesings, waarby ingesluit ’n “oorlogskamer” om partye soos die DA te kortwiek. Vandag weet ons daardie veldtog was toe só “klandestien” dat dit geen impak gemaak het nie. En die grootste oorlog het gewoed tussen ANC-faksies in die einste oorlogskamer – in so ’n mate dat ou metro-vestings in die opposisie se hande beland het.

Dié slag voorsien Vryburger ook ’n oorlog in die ekonomiese oorlogskamer tussen ANC-faksies oor presies wat “inklusiewe ekonomiese groei” nou eintlik beteken, terwyl die ekonomie daar buite besig is om (inklusief) verder te krimp.

Kubayi, Meraai!

Dis ook van belang dat die party mos vroeër koebaai gesê het vir Mmamoloko Kubayi as voorsitter van sy ekonomiese beleidskomitee en haar vervang het met Zuko Godlimpi.

Vandaar seker die nuwe ekonomiese tienpuntplan. Klink egter soos die dekstoele op die Titanic, want hoeveel ekonomiese beleide het ons nie al gesien nie?Daar was die HOP (dit het geflop); Gear (wat nie in rat wou kom nie – nie in Manuel of in “automatic” nie); Asgisa (askies, maar wie onthou nog waarvoor dit gestaan het?); die Nuwe Groeipad (waarmee die ANC verdwaal het); die Nywerheidsplan van Aksie (ons wag nog op satisfaksie); en uiteindelik die Nasionale Ontwikkelingsplan (ons het die plan gesien, maar waar is die ontwikkeling?).

Van Riebeeck, die groot ANC-debiteur

Ja, kospryse is op, brandstofpryse is op, belasting is op. Al wat deesdae af is, is die elektrisiteit in Luthuli-huis – nie oor beurtkrag nie, maar omdat die balju voor die deur staan met onbetaalde rekeninge en nou selfs beslag lê op die ANC se kantoormeubels.

Vryburger se ma het hom geleer om hom nie te verlekker in ander se swaarkry nie, en daarom gaan hy die regerende party help met ’n 11de punt vir sy ekonomiese tienpuntplan: Wanneer die bank sê “Kom ons praat bietjie oor jou skuld”, antwoord net met: “Dis nie ons skuld nie – dis apartheid se skuld.”

CTA