Vanjaar se eerste sneeu het op die Swartberg geval - al in Maart! Teen druktyd het dit reeds in die Drakensberg en Lesotho ook gesneeu. Hier is die beste plekke om sneeu te gaan soek:
KwaZulu-Natal. In die Drakensberg is 'n mens byna gewaarborg om wit landskappe te sien. Mik na Sentraal-Drakensberg, Cathedral Peak, Sanipas, Himeville, Mooirivier en Van Reenenspas.
Wes-Kaap. Wil jy graag die kinders vat om 'n sneeuman te bou? Matroosberg, die tuiste van die Skiklub van Suid-Afrika, is dié plek. Gaan na matroosberg.com. Sneeu kan in die Sederberg voorkom, maar dis nie 'n gegewe soos in die Drakensberg nie. Ceres, Worcester, Tulbagh en die Swartbergpas kry ook soms sneeu.
Noord-Kaap. Sutherland is dié provinsie se sneeudorp - dis immers ook een van die land se koudste plekke. Calvinia, Loxton en Victoria-Wes kry soms ook 'n strooisel.
Oos-Kaap. 'n Mens kan ook sneeu te wagte wees op dorpe in die suidelikste deel van die Drakensberg soos, Rhodes, Barkly-Oos, Ugie en Khowa (Elliot). Hogsback in die Amatolaberg en Nieu-Bethesda in die Sneeuberg kry ook gereeld 'n skoot sneeu.
Vrystaat. Byna al die dorpe naby die grens met Lesotho kan sneeu kry, van Harrismith, Clarens en Fouriesburg tot Zastron.
Volg Snow Report SA op Facebook of gaan na snowreport.co.za. Hulle het ook 'n WhatsApp-groep waarby jy kan aansluit.







