Soms besef 'n mens nie dat 'n keisersnee 'n enorme buik-operasie behels nie. Gelukkig het jy nou 'n baba en dit is sekerlik die grootste aansporing en beloning om so gou moontlik beter te begin voel. Kom ons kyk hoe jy jou herstel kan bespoedig en hoe jy gaan voel in die ure, dae en weke nadat jy jou keisersnee gehad het.
'n Goeie begin
Die Johannesburgse vroedvrou Janine Nash sê optimale voeding en gesondheid is nie net tydens jou swangerskap belangrik nie - dit help ook dat jy ná die tyd beter van jou keisersnee sal herstel. "Probeer om so gesond moontlik te wees wanneer jy die operasiesaal binnegaan.
Probeer om nie die aanbevole gewig vir jou swangerskap te oorskry nie. Oorgewig vroue is geneig om meer ná 'n keisersnee te sukkel omdat hul wonde soms kan ontsteek omdat dit in 'n velvou lê, wat verhinder dat lug by die wond kom," verduidelik Janine.
Oefening tydens swangerskap help beslis. Jy mag net nie langer as 30 minute uitasem wees nie, en jou polsslag behoort nie 140 slae per minuut te oorskry nie.
Oefening is noodsaaklik vir ma en baba se gesondheid en ook vir 'n gesonde keisersnee. Janine beveel stap, swem en joga aan.
Ná die operasie
Die eerste belangrike ding is dat die ma wat 'n keisersnee moet kry, positief oor die ervaring bly, sê Janine. Jou emosionele houding speel 'n groot rol in jou herstel. "Ma's wat 'n positiewe uitkyk het, vaar altyd beter met herstel as dié wat negatief is."
Wat fisieke sake betref, sê Janine kan jy maar in jou bed begin kriewel sodra jy uit die herstelkamer is. "As jy jou beenspiere saamtrek, bevorder jy bloedvloei en dit voorkom diepaartrombose." Jy sal vir minstens 12 uur ná die operasie nie toegelaat word om op te staan nie.
"Sodra dié tydperk verby is, kan jy met hulp orent kom. Staan regop. Dit kan voel asof jou wond gaan oopskeur, maar dit sal nie. Wanneer jy mooi regop staan, sal die gevoel weggaan. Hoe langer jy die opstaanslag uitstel, hoe moeiliker gaan dit word," beklemtoon Janine.
In die eerste 24 tot 48 uur ná die geboorte sal jy aangemoedig word om jou gewone swangerskapsaanvulling te drink. Jy kan ook 'n tonikum soos Blackthorn Berry Elixir drink, met baie water. Dit sal help om herstel te bespoedig en ook om hardlywigheid te voorkom. Laasgenoemde ontstaan onder meer omdat 'n mens se derms effens deur die buikoperasie beïnvloed word.
Die laaste ding waarmee jy in hierdie stadium opgesaal wil wees, is hardlywigheid. Eet dus kos en vrugte met baie vesel as jy vermoed dat jy hardlywig kan raak.
Hoe gaan jy voel?
Sowat 'n uur ná die operasie sal jy weer gevoel in jou bene terugkry. In die 24 uur daarna kan jy postoperatiewe pyn ervaar. Jy kan naar wees, of lighoofdig van die narkose en medikasie wat jy kry.
Ná 48 uur begin die pyn afneem en elke dag word 'n bietjie beter tot jy teen dag 10 werklik heelwat beter begin voel.
Sommige ma's kry dit reg om die pynmedikasie ná drie of vier dae te staak, maar ander het dit 'n volle twee weke lank nodig.
Alles hang af van jou pyndrempel. Beheer die pyn deur die medikasie te gebruik soos voorgeskryf. Moenie wag tot jy pyn voel voor jy dit drink nie. "As jou wond op sommige dae seerder voel as ander, is dit waarskynlik omdat jy dinge daardie dag 'n bietjie oordoen het.
As jou wond egter progressief seerder word, rooi is, begin sweer of bloei, of as jou vaginale bloed sleg ruik, moet jy sonder versuim dokter toe," sê Janine.
Ná sowat drie weke sal jou pyn heelwat beter wees en teen ses weke behoort jy weer normaal te voel. As jy dán nog steeds pyn het, behoort jy die dokter in te lig.
Jou wond sal egter steeds lam voel, en dié gevoel gaan baie stadig weg. Moenie daaroor ontsteld wees nie. Jou wond en enige littekens van swangerskap verdof geleidelik en is eintlik iets waarop 'n vrou maar trots kan wees, sê Janine.
Alles hang af van jou pyndrempel. Beheer die pyn deur die medikasie te gebruik soos voorgeskryf en deur nie te wag tot jy pyn voel voor jy dit drink nie.
WAT MA'S VERTEL
My eerste keisersnee was sowat 'n uur lank baie seer en toe ek opstaan, het dit gevoel of ek gaan oopskeur. Maar dis net 'n gevoel - dit sal nie gebeur nie. Die pynpille het baie gehelp. Toe die kateter eers uit is, het ek baie beter gevoel. My tweede keiser was baie minder seer en ek het makliker orent gekom. Ek het sommer ná 10 dae al bestuur. Die tweede wond was ook mooier. Die ginekoloog het al die ou littekenweefsel van die eerste een weggesny. Bertina Vermeulen Potchefstroom, Noordwes
Ek kan nie eens my keisersnee onthou nie, want sowat 'n week ná die operasie moes ek teruggaan hospitaal toe vir 'n aambei-operasie en dit was erger! Ten minste word mens ná 'n keiser met 'n bondeltjie baba beloon. Lizette Botha, Pretoria, Gauteng
Ek was lank seer, maar ek dink dis omdat ek die pynpille probeer vermy het. Ek was bang dit meng in met borsvoeding. Dit was darem nie onhoudbaar nie en 'n mens vergeet dit ook gou. My wond is nou twee jaar later net 'n fyn, rooi strepie. Lee Schoeman, Durbanville, Wes-Kaap
In die hospitaal het ek presies gedrink en gedoen wat die susters gesê het, en die pyn was glad nie erg nie. Maar die aand ná my eerste dag tuis, was nie lekker nie. Ek het dit oordoen, want ek het 'n ouer kind wat aandag moes kry. Eintlik moes ek my ma en man meer laat help het. Joanette Cilliërs, Kaapstad, Wes-Kaap
Die operasie was amper dadelik vergete, want ek was so gefokus daarop om borsvoeding reg te kry. My aandag was skielik bo eerder as onder die belt. Die baba wat nie mooi wou vassuig nie, was seerder as die keiserwond. Dis hoe ek dit altans onthou. Carin Piek, Johannesburg, Gauteng
Ek is al in die kraamsaal met iets ingespuit en het regtig nie pyn gevoel nie. Ek het die pynpille twee weke lank gedrink soos die dokter gesê het, want ek wou nie die risiko van pyn loop nie. Hoe gouer 'n mens opstaan, hoe beter. My wond het baie lank nogal styf gevoel en ek hou nie van die effense boggel wat nog ses maande later daar sit nie. Yvette van Niekerk, Klerksdorp, Noordwes
WAT JY NIE KAN DOEN NIE ¦ Jy mag vir ses weke nie bestuur nie. As jy voel jy kan, en jy moet, moet jy met jou versekeraar gesels, want dis moontlik dat jy nie dekking sal hê nie. ¦ Jy mag nie oefen tot die ginekoloog op ses weke vir jou gesê het jy mag nie. ¦ Jy mag nie seks hê tot die ginekoloog gesê het dis in die haak nie. ¦ Jy mag nie swem terwyl jy nog bloei nie. Water kan jou uterus binnedring omdat jou serviks nog oop is. ¦ Vra jou dokter wanneer jy mag bad. Dit hang af van waarmee jou wond toegemaak is: steke, krammetjies, oplosbare steke of gom. WAT JY KAN DOEN ¦ Stap ¦ Borsvoed binne 'n uur ná die operasie. ¦ Vel-tot-vel-kontak sodra dit moontlik is, word aanbeveel. ¦ Buk en doeke ruil. ¦ Rus en hulp vra.







