Altesame 24 mense is in hegtenis geneem vir beweerde verkiesingsbedrog, het Bheki Cele, minister van polisie, Maandag bevestig.
Hy het op 'n mediakonferensie oor veiligheidskwessies in die pas afgelope verkiesings gesê die inhegtenisnemings hou verband met agt sake.
Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, en dr. Siyabonga Cwele, minister van binnelandse sake, het ook die mediakonferensie bygewoon.
Volgens Cele het die nasionale gesamentlike operasionele intelligensiestruktuur (Natjoints) vroeër aangekondig dat verdagtes aangekeer is nadat hulle gepoog het om meer as een keer te stem.
Altesame 21 verdagtes is in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem en een in Gauteng.
Twee mense, Etienne Mare (52) en Malinda Halloway (57), het ook Vrydag in die landdroshof in Barberton, Mpumalanga, verskyn. Dit was nadat Mare volgens Cele op sosiale media beweer het hy is op pad om vir 'n "tweede keer" te gaan stem nadat Halloway glo gesê het sy was "in staat om dit self te doen".
Altesame 188 algemene sake is ook by die polisie aanhangig gemaak. Volgens Cele is 203 verdagtes in hegtenis geneem, 53 sake is tans in die hof, 99 sake word ondersoek en nege sake is tans voor die senior staatsaanklaer vir 'n besluit.
Op 'n vraag oor of daar opgetree gaan word teen politici wat mense gevra het om meer as een keer te gaan stem om die stelsel te toets, het Cele geantwoord dat daar 'n proses is "waar verklarings geneem moet word, insluitend van die politici wat hulself in die posisie geplaas het om te probeer inmeng by die verkiesing".
Mapisa-Nqakula het gesê dit is die verantwoordelikheid van die polisie om ondersoeke te doen, nie dié van politici nie. "Dit is 'n suiwer operasionele kwessie. Wanneer die besluit finaal geneem word, sal dit die nasionale vervolgingsgesag saam met die polisie wees wat daardie besluit sal neem, nie die minister van polisie of justisie nie."





