'n Vurige debat het die konstitusionele hof in Johannesburg se besluit - dat 'n aansoek om onafhanklike kandidate aan die verkiesing te laat deelneem nie dringend is nie - voorafgegaan.
Die aansoekers, wat die New Nation Movement, insluit, het aangevoer dat die aansoek om verlof tot appèl teen 'n hooggeregshof se beslissing dringend is met die oog op die verkiesing, want as die kwessie nie dringend opgelos word nie, kan hulle volgende week se verkiesing suksesvol as onwettig uitdaag.

Die aansoek sal op 15 Augustus vanjaar in die hoogste hof aangehoor word.
Regter Edwin Cameron het namens 'n volbankregters uitspraak gelewer en gesê die aansoekers het nie daarin geslaag om die dringendheid van hul aansoek te bewys nie.
Adv. Allan Nelson SC, namens die aansoekers, het gevra om 'n bevel om te verklaar dat die OVK-wet ongrondwetlik is omdat dit nie onafhanklike kandidate insluit nie.
Nelson het aangevoer die verkiesing sal ongrondwetlik wees as dit volgende week voortgaan sonder dat die onafhanklike kandidate die geleentheid gekry het om toe te tree.
Hy het aangevoer dat minderheidsgroepe, soos die Khoi-gemeenskap, nie in die parlement verteenwoordig word nie en dus die geleentheid moet kry om as 'n onafhanklike kandidaat tot die verkiesing toe te tree.
Hy sê die speaker van die parlement het gesê sy het 36 maande nodig om 'n nuwe verkiesingstelsel op te stel (dit beteken die verkiesing word vir 36 maande uitgestel). Nelson was egter van mening dat die wysiging aan die wetsontwerp binne drie maande sou kon geskied.
"Ons behoort dan teen Augustus die verkiesing te kan hou," het hy gesê.
Die respondente in die saak is pres. Cyril Ramaphosa, die minister van binnelandse sake, die Verkiesingskommissie (OVK) asook die speaker van die Nasionale Vergadering.
Adv. Mukesh Vassen, wat namens die speaker en die nasionale raad van provinsies optree, het benadruk dat Suid-Afrika elke vyf jaar 'n verkiesing hou.
"Enige vertraging sal natuurlik groot ontwrigting veroorsaak."
Hy het benadruk dat die publiek se reg om te stem swaarder as die regte van die onafhanklike aansoekers moet weeg.
Regter Johan Froneman het Vassen daarop gewys dat indien die hof nie vandag uitspraak lewer nie, daar 'n geleentheid kom vir die lede van die publiek om die regverdigheid van die verkiesing te betwis.
Vassen het aangevoer dat dit onregverdig teenoor die publiek sal wees om die verkiesing nou, op die nippertjie, uit te stel.
Vassen het gesê selfs al vind die aansoeker, 'n onafhanklike kandidaat, haar pad na die parlement, sal sy moontlik steeds nie 'n stem hê nie omdat sy met partye meeding.
Adv. Steven Budlender SC, wat namens die OVK verskyn, het betoog dat om die aansoek gelyk te gee sal die "publiek ontneem van sy reg om te stem".
Hy sê hierdie aansoek gaan nie oor wie 'n fout begaan het nie, maar oor die gevolg van só hofbevel.
Hy het benadruk dat die publiek se reg om te stem swaarder as die regte van die onafhanklike aansoekers moet weeg.
Budlender het ook benadruk dat R36 miljoen reeds aan die druk van die stembriewe gespandeer is.
Adv. Nazeer Cassim SC, namens die minister van binnelandse sake, het gesê die aansoekers is nooit gekeer om aan die verkiesing deel te neem nie, "hulle wou net 'n ander, luukse verkiesingstelsel hê".
Agtergrond
Regter Siraj Desai het verlede maand 'n aansoek in die hooggeregshof in Kaapstad verwerp dat die Kieswet gewysig word sodat onafhanklike kandidate aan die komende nasionale en provinsiale verkiesing mag deelneem.

Revelle, 'n bekende Khoi-leier en prinses van die Korana se koninklike huishouding, het in haar beëdigde verklaring in die aansoek aangevoer dat die aansoek suksesvol behoort te wees omdat sy as 'n onafhanklike kandidaat in die Mei-verkiesing wil staan.
Sy het aangevoer dat die geslote partylys-stelsel beteken dat politieke partye, en nie die kiesers nie, hul verteenwoordigers kan kies.
Volgens haar laat dit 'n politieke stelsel toe waarin faksies gedy en die beste persoon nie noodwendig vir die pos gekies word nie.
Dit maak die individu aanspreeklik aan die politieke party en sy leierskap, en nie aan die kiesers nie, terwyl dit partypolitiek en lojaliteit bo doeltreffendheid en dienslewering plaas.
Desai het egter in sy uitspraak gevra wat die New Nation Movement daarvan weerhou om hom ingevolge art. 19 van die Grondwet by 'n politieke party aan te sluit, of een te stig.
Revelle se argument dat sy nie aan 'n politieke party wil behoort nie omdat sy geen vertroue in hul vermoë het om om te gee of om die belange te verteenwoordig waarvoor sy as 'n vrou, ma en lid van die sogenaamde First Nation People staan nie, regverdig min kommentaar en is kwalik genoegsaam, het Desai aangevoer.
Volgens hom kán sy haar by 'n politieke party aansluit en haarself vir 'n openbare pos beskikbaar stel.
"Sy verkies om dit nie te doen nie. As sy nie kies om haar by 'n ander politieke party aan te sluit nie, is sy vry om haar eie politieke party te stig," lui Desai se uitspraak.
Hy het oor die applikante se verwysing na die woorde "burgeroorlog" en "volksmoord" gesê hy het gedurende die argumente hul regsverteenwoordiger gevra of sy kliënte dit sal oorweeg om die gebruik van sulke taal te hersien.
"Hy het beleefd geweier. Dié terminologie haal herinneringe op van die mensdom op sy ergste. Die gebruik daarvan maak gewoonlik die probleem erger en moet afgekeur word. Die aansoek word verwerp en daar is geen kostebevel nie," het hy beslis.


















