
Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, het vir die eerste keer onthul dat sy party wil hê dat Julius Malema na dié verdeelde party moet terugkeer.
"Ek is lief vir Julius. Ek praat met hom om terug te keer huis toe," het Magashule volgens City Press gesê.
Hy het gesê dat Malema saam met sy ondersteuners na die ANC moet terugkeer.
Magashule, vergesel deur Dakota Legoete en Obed Bapela, lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) en Carl Niehaus, woordvoerder van die MK-veteranevereniging en provinsiale leiers soos Kenetswe Mosenogi, het Vrydag op 'n verkiesingsveldtog aan ANC-ondersteuners in die Ikageng-township in Tlokwe (Potchefstroom) in Noordwes die uitlatings gemaak.
Malema het die week gesê dat die EFF ná die verkiesing op 8 Mei koalisiegesprekke met die ANC sal oorweeg.
Malema is in 2012 uitgeskop as president van die ANC-jeugliga en ook uit die party, omdat hy na bewering verdeeldheid gesaai en die party in oneer gebring het.
Ek is lief vir Julius. Ek praat met hom om terug te keer huis toe.
Sarel van der Walt berig dat dr. Piet Croucamp, politieke ontleder, gesê het die politieke toenadering wat Malema die laaste ruk tot die ANC soek, baie insiggewend is.
"Dit dui daarop dat hy 'n manier soek om terug te kom in die ANC.
"Malema se ambisie om president van Suid-Afrika te word is baie groot en hy weet hy kan dit net regkry as hy weer deel word van die ANC.
"As hy dit regkry om in die volgende paar jaar weer deel van die ANC te word, sal hy waarskynlik genoeg steun binne die party hê om Cyril Ramaphosa as leier uit te daag.
Malema se ambisie om president van die land te word is baie groot en hy weet hy kan dit net regkry as hy weer deel word van die ANC.
"Populiste soos hy smag na mag en hy sal dit nie van buite die ANC kry nie. Die EFF is te klein.
"Kyk maar, daar sal met die verloop van tyd toenemende samewerking en assimilasie tussen die EFF en die ANC wees," sê Croucamp.
Malema het dit die laaste ruk baie duidelik gemaak dat hy nie meer met die DA wil saamwerk nie, maar wel met die ANC.
Die DA het met die hulp van kleiner partye en die EFF die beheer van die metrorade van Johannesburg, Tshwane en Nelson Mandelabaai (Port Elizabeth) by die ANC oorgeneem ná die munisipale verkiesing in 2016. Hy het later met die ANC begin saamwerk om die beheer terug te wen.



















