Die ANC het Vrydagaand 21:00 voorgeloop met 61,19% van die stemme, met 19 stempunte se stemme wat nog getel moes word, terwyl die party in die 2014-verkiesing 69,85% van die stemme getrek het.
Dit wou dus voorkom asof die ANC weer gemaklik die Vrystaat met meer as 60% sal wen, hoewel hy heelwat swakker as in die 2014-verkiesing gevaar het.

Dit beteken dat pleks van die 22 setels van die 30 wat dié party tot nou toe in die Vrystaatse wetgewer gehad het, hy moontlik net 19 of 20 gaan hê.
Die DA, wat weer die amptelike opposisie in die Vrystaat sal wees, het 17,41% steun in daardie stadium gehad. Dié party het in die 2014-verkiesing 16,23% van die steun in die Vrystaat geniet.
Werner Horn, kiesafdelingshoof van die DA in die Vrystaat, was hoopvol dat die party moontlik een bykomende setel in die Vrystaatse wetgewer sou kry sodat hy ses setels sal hê.
Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, sê hy is verheug dat die DA weer die amptelike opposisie in die Vrystaat gaan word waar die party nie soos in Mpumalanga en Limpopo daardie plek verbeur het nie.
"Die verbeterde prestasie van die DA in die Vrystaat is vanweë die gefokusde veldtog in die provinsie onder Horn se leiding en die goeie premiersveldtog van Patricia Kopane.
"Ook weens die feit dat die DA in die Vrystaat en in die Vrystaatse wetgewer 'n goeie geskiedenis het, dat die party die belange van sy kiesers gedien en beskerm het, en dat hy die uitvoerende gesag in die provinsie onder leiding van Ace Magashule, voormalige premier, heeltyd tot verantwoordbaarheid gedwing en skandale blootgelê het. "Dink aan onreëlmatighede, soos die Vrede-suiwelplaas, die Ramkraal- en die asbesdaktel-projekte," sê Jankielsohn.

Die EFF het in daardie stadium die derde plek in die Vrystaat beklee met 12,64% van die steun teenoor die 8,15% van die steun in 2014. Dié party, wat aansienlik in die Vrystaat gegroei het, sal nou pleks van twee setels vier in die Vrystaatse wetgewer hê, terwyl daar nog in daardie stadium selfs op 'n vyfde setel gehoop is.
Madisa Makhesini, provinsiale voorsitter van die EFF, sê by navrae haar party kan nog nie sê of hulle vier of vyf wetgewerlede gaan wees nie. "Ons leier, Julius Malema, se ouma is dood. Ons gaan eers almal Saterdag begrafnis toe en sal Maandag besluit wie die wetgewerlede sal wees as ons weet of ons vier of vyf setels het."
Die VF Plus, wat 3,93% van die steun in die Vrystaat in daardie stadium geniet het, het gegroei van die 2,10% steun wat hy in die 2014-verkiesing gekry het, maar die steun sal moontlik nie genoeg wees om sy een setel in die Vrystaatse wetgewer na twee te vermeerder nie, is bespiegel.
Thabo Meeko, ANC-woordvoerder in die Vrystaat, sê by navraag ná die ANC se oorwinning in die Vrystaat is dit nie 'n gegewe dat Sisi Ntombela die Vrystaatse premier sal bly nie, hoewel haar naam op die party se provinsie tot provinsie-lys is.
Hy sê nadat die ANC se provinsiale uitvoerende komitee (PUK) op drie premierskandidate besluit het, sal die name na die nasionale uitvoerende komitee (NUK) deurgegee word. Die NUK sal dan besluit wie die Vrystaat se premier sal wees.
Sodra aangekondig is wie die premier is, sal hy of sy op 'n formele plegtigheid tot die amp in die Vrystaatse wetgewer verkies en ingehuldig word.
Al die wetgewerlede sal ook ingehuldig word.
Op die ANC se provinsie tot provinsie-lys is die eerste 19 name wat nou die setels in die Vrystaatse wetgewer gaan beklee Sam Mashinini, Mamiki Qabathe, Sisi Ntombela, William Bulwane, Makalo Mohale, Vusi Tshabalala, Jabulane Radebe, Skully Nxangisa, Montseng Tsiu, Motshidise Koloi, Limakatso Mahasa, Ntombizanele Sifuba, Gadija Brown, Tate Makgoe, Lucy Mapena, Thabo Meeko, Mojalefa Buti, Malitaba Moleleki en Heinrich Smit.
* Indien die party 20 setels kry, sal die naam van Thandi Reachable, burgemeester van Koffiefontein, bykom. Die skok is dat verskeie ervare Vrystaatse LUR'e wie se name te laag op die lys is nie weer tot hul poste in die wetgewer sal terugkeer nie.
Dit is Elzabé Rockman, LUR vir finansies, dr. Benny Malakoane, LUR vir landbou en landbou-ontwikkeling, Dora Kotzee, LUR vir openbare werke en behuising, Oupa Khoabane, LUR vir plaaslike regering, en Butana Komphela, LUR vir maatskaplike ontwikkeling.











