Die ANC is in tamatiestraat en as hy nie begin om na die mense te luister nie, sal hy nie meer vir lank in Gauteng aan die bewind bly nie.
Die politieke ontleder Ralph Mathekga sê die mense is baie kwaad vir die ANC in Gauteng en dit is duidelik in die verkiesingsuitslae in dié provinsie.
Teen Vrydagaand vroeg, toe 79% van die stemme klaar getel was, het die ANC 50,86% van die steun gehad. Enkele ure vroeër was dit minder as 50%.
Die DA se steun was in daardie stadium 27,1% en dié van die EFF 14,41%.
Die VF Plus het toe 3,55%-steun geniet.
Mathekga het gesê ANC-lede in Gauteng is onder meer woedend vir die ANC oor die Life Esidimeni-tragedie waarin meer as 100 psigiatriese pasiënte dood is. Gebrekkige dienslewering is 'n ander groot grief. Korrupsie het hulle ook van die stembus laat wegbly.
"Gauteng is die belangrikste provinsie in die land omdat dit die ekonomiese hartland van die land is. Dit is ook die digsbevolkte provinsie.
"Die mense het hul woede gewys deur weer (soos in 2016 met die plaaslike verkiesing) van die stembus weg te bly. Ander het eerder dié keer vir die EFF gestem."
Die mense het hul woede gewys deur weer (soos in 2016 met die plaaslike verkiesing) van die stembus weg te bly. Ander het eerder dié keer vir die EFF gestem.
Hy meen die wegblystem sal 'n neiging bly wat voortduur as die ANC nie aandag aan die mense se probleme gee nie.
Teen laatmiddag was dit duidelik die ANC sou minstens ses persentasiepunte swakker vaar in Soweto - eens dié hartland van die ANC. Die EFF se steun in dié township het met dieselfde getal persentasiepunte gestyg.
Pres. Cyril Ramaphosa, ANC-leier, sou Vrydag die nasionale uitslagsentrum in Pretoria besoek, maar dit is tot Saterdag uitgestel.
'n Senior regeringsbron het gesê die ANC was in daardie stadium bang dat hy dalk nie in Gauteng 'n volstrekte meerderheid sou behaal nie. Dit sal 'n ramp vir die party wees as hy die ekonomiese hartland van die land verloor, het die bron gesê.
Volgens Mathekga en Theo Venter, Netwerk24 se verkiesingsontleder, sal dit baie moeilik vir die ANC wees om dié provinsie met 'n koalisievennoot te regeer, of om 'n minderheidsregering te wees.
Dit sal belangrike besluite en die uitvoering daarvan onder meer vertraag.
Hulle glo ook nie die ANC sal in koalisie met die DA of die EFF regeer nie, maar eerder hulp van kleiner partye soek.
Venter sê daar was nie net negatiewe aspekte vir die ANC in Gauteng nie. Hy glo die mense het in hul massas vir die ANC gestem om Ramaphosa te help.
"Met die oog op die plaaslike verkiesing in 2021 is die uitslag in Gauteng 'n baie belangrike en rigtinggewende uitslag, veral omdat daar baie probleme op plaaslike regeringsvlak is.
Met die oog op die plaaslike verkiesing in 2021 is die uitslag in Gauteng 'n baie belangrike en rigtinggewende uitslag, veral omdat daar baie probleme op plaaslike regeringsvlak is.
Solly Msimanga, die DA se premierskandidaat, het gesê wat die uitslag ook al is, hy sal 'n lid van die Gautengse provinsiale raad wees. Hy sal nie parlement toe gaan nie, het hy aan Alet Joubert gesê.
Fikile Mbalula, verkiesingshoof van die ANC, het aan Netwerk24 gesê hy is hoopvol dat die ANC uiteindelik 51% van die stemme sal kry.
"Ons is tans nog in 'n skrum in beseringstyd," het hy gesê.












