ANC sê dis onsin dat die Russe hom gehelp het

Dis onsin dat die Russe die ANC tydens die verkiesingsveldtog gehelp het.

Só sê Dakota Legoete, 'n woordvoerder van die ANC, op 'n berig in 'n Britse dagblad dat die Russe ingemeng het met die Suid-Afrikaanse verkiesingsveldtog om die ANC te help.

The Guardian het Woensdag berig volgens dokumente wat hy gesien het, het Russiese spesialiste gehelp om die plan op te stel om die kanse van die ANC te verbeter en terselfdertyd die "pro-Westerse" DA en die EFF in 'n slegte lig te stel.

Die plan is glo opgestel deur die Association for Free Research and International Cooperation (Afric) "onder die dekmantel van navorsing".

"Dis absolute nonsens," het Legoete aan Netwerk24 gesê.

Die Russe word daarvan beskuldig dat hulle in 2016 'n groot rol in die Amerikaanse presidentsverkiesing gespeel het om pres. Donald Trump verkies te kry.

"Ek was ten nouste saam met (Fikile) Mbalula (die ANC se verkiesingshoof) betrokke by die ANC se verkiesingsveldtog. Daar was geen Russe deel van ons verkiesingsveldtog nie," het hy gesê.

Henning van Aswegen, 'n spioenasie-kenner, en 'n voormalige dosent by die Suid-Afrikaanse Nasionale Intelligensie-akademie, het gesê dit is hoogs onwaarskynlik dat enige Russiese disinformasie-veldtog 'n beduidende invloed op Woensdag se verkiesing sou hê.

Van Aswegen sê baie min Suid-Afrikaners het waarskynlik al van die onbekende Afric gehoor.

"Enige poging van dié organisasie om die verkiesing via sosiale media te beïnvloed, sou bykans geen trefkrag gehad nie," meen hy.

The Guardian het berig 'n groep politieke ontleders is glo in Februarie in Suid-Afrika ontplooi om die ANC te help.

Die dokumente, wat die koerant sê hy gesien het, het daarop gedui dat die ANC sou sukkel om meer as 50% van die stemme op hom te verenig. Die EFF sal as die naasgrootste party uit die stryd tree.

Kate Bapela, woordvoerder van die Verkiesingskommissie (OVK), het gesê wie ook al sulke beweringe maak, moet die bewyse daarvan voorlê.

Die Russe word daarvan beskuldig dat hulle in 2016 'n groot rol in die Amerikaanse presidentsverkiesing gespeel het om pres. Donald Trump verkies te kry.

CTA