
Duidelik georkestreerde, vernietigende geweld deur die ANC in DA-beheerde gebiede.
So het Mmusi Maimane, DA-leier, Donderdag die skuld vir die vlaag van geweld en betogings in die land op die regerende party gepak.
In so 'n betoging in Pretoria het betogers die kerkgebou van die Nederduitsch Hervormde Kerk Wesmoot met geweld binnegedring en 'n pad van verwoesting gesaai.
Die kerk se ruite is uitgegooi, kerkbanke is omgegooi en boeke en Bybels het oral in die chaos rondgelê.
Van die betogers het lappe en gordyne aan die brand gesteek, maar die polisie het die vlamme gou geblus.
Groot ontwrigting is ook veroorsaak deur gemeenskappe in Bronkhorstspruit, Hammanskraal, Soshanguve, Atteridgeville, Mabopane, Ga-Rankuwa en Mamelodi wat al van vroegdag af betoog het.
ANC-raadslede van die Tshwane-metro het Donderdag, net voordat Stevens Mokgalapa, DA-burgemeester, met sy stadsrede begin het, uit die raadsaal gestap.
Hulle was blykbaar ontevrede omdat dit in die middestad van Pretoria gehou word en oor die ontwrigting wat die straatsluitings veroorsaak het.

Die DA is ook ingevlieg omdat hy glo nie aandag gee aan die betogings in Hammanskraal, noord van Pretoria, nie.
Maimane sê met die baie werklike moontlikheid dat die ANC op 8 Mei verkiesingsnederlae in sleutelgebiede in die land kan ly, het die party hom nou gewend tot desperate, gewelddadige en vernietigende taktiek wat dreig om Suid-Afrika tot op die grond toe af te brand.
Hy het aan genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, geskryf om vas te stel watter reëlings bestaan om die "ANC-aangehitste geweld" te beëindig.
Maimane beskuldig die ANC daarvan dat hy die betogings van Alexandra in Johannesburg tot in Pretoria en ook dele van Kaapstad georkestreer het in 'n poging om DA-beheerde stede onregeerbaar te maak "en om die aandag af te lei van sy regering se mislukkings die afgelope 25 jaar".
Hy sê die ANC gee nie om vir arm mense se lot nie en wil net ten alle koste aan die bewind bly om nog geld te kan steel.
Hy sê pres. Cyril Ramaphosa werk in 'n vakuum en dat adj.pres. David Mabuza, Fikile Mbalula, verkiesingshoof, en Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, eintlik in beheer is.
"Anders as die president sal ons nie staan en toekyk hoe die ANC die land tot op die grond afbrand nie."
Ook Julius Malema, EFF-leier, het Donderdag gesê die betogings in Alexandra is 'n skepping van die ANC. Malema het op 'n mediakonferensie in die party se hoofkantoor in Johannesburg gesê hoewel die mense van Alexandra se eise en kwellings geldig is, meen hy die ANC sit agter die #AlexandraTotalShutDown-veldtog.
"Dit is 'n veldtogstrategie wat klaaglik teen hulle gaan draai.

"Laat hulle voortgaan om aan te hits, maar hulle moet weet dat dit gaan versprei na die munisipaliteite waarin hulle (in beheer) is," waarsku Malema.
Protas Madlala, politieke ontleder in KwaZulu-Natal, sê in reaksie op die DA se bewerings daar is wel "vermoedens dat die hele ding die DA teiken", maar daar is ook betogings in Durban, wat deur die ANC beheer word.
"Ja, ons is in verkiesingsrat en enigiets is moontlik, maar die DA se veralgemenings is verregaande.
"Hy moet redes gee waarom die betogings politiek gemotiveerd is," sê Madlala.
Skole in Kaapstad gesluit
In Kaapstad is 21 skole Donderdag gesluit weens gewelddadige betogings wat leerlinge se veiligheid bedreig het.
Die betogers het gebreek en geplunder so ver hulle gegaan het. Drankwinkels en ander winkels is besteel en selfs kitsbanke is oopgebreek.
Jessica Shelver, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê die 21 skole wat die departement gesluit het, is in die Strand, Khayelitsha en in Happy Valley.
Die protesoptrede in die Strand het Donderdagmiddag vererger namate die getal betogers tot sowat 1 000 mense aangegroei en groepe belhamels ondernemings geplunder het. Agt mense is in hegtenis geneem, sê sers. Noloyiso Rwexana, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder.

















