Die Vryheidsfront Plus se uitstekende vertoning in Woensdag se verkiesing is 'n boodskap aan die regering dat dié party se ondersteuners gelyke en regverdige behandeling soek.
"Die boodskap was dat ons nie verder enige geboelie gaan duld vir enigiets wat in die land verkeerd loop nie," het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, Vrydagaand by die Verkiesingskommissie (OVK) se nasionale uitslagsentrum in Pretoria gesê.

Die VF plus het vriend en vyand verras deur sy steun van 2014 se 0,9% tot 2,38% te verhoog en die vyfde grootste party te word.
"Ons is nou een van die Groot Vyf," het Pieter de Necker, 'n ontleder van munisipale verkiesings en plaaslike owerhede, gister gesê.
Die party stuur nou tien LP's parlement toe en 11 lede na die onderskeie provinsiale wetgewers, teenoor vier LP's en drie wetgewerlede in die afgelope termyn.
Die party het ook twee lede in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) vir die eerste keer in jare.
Volgens Groenewald is nog 'n belangrike kwessie wat aan die publiek verduidelik is dat hulle vir enige party kan stem wat hul waardes deel "en dat jy nie jou stem mors nie. Jou stem geld steeds as 'n stem teen die regerende party," het hy gesê.
Fikile Mbalula, ANC-verkiesingshoof, het oor die VF Plus se vertoning gesê: "Dis oor die grondkwessie."
Anton Alberts, voorsitter van die party, sê baie mense dink dat die VF Plus-steun spruit uit onteiening sonder vergoeding.
"Dit het 'n rol gespeel, maar die eintlike rede is dat daar 'n klomp mense by die DA was wat onveilig gevoel het."
Hy sê die kiesers voel veiliger by die VF Plus "omdat ons baie meer reguit is".
"Hulle het gevoel die DA dien nie meer hul belange nie en dat die DA te rasgeoriënteer geraak, en by implikasie anti-wit en anti-bruin is.
"Ons is meer reguit oor die beskerming van minderheidsregte."
Pieter Mulder, voormalige VF Plus-leier, sê "die DA het oor die jare weggekom met twee leuens".
"Een is om te sê ‘ons gaan wen'. In elke verkiesing is dit geglo - en dan kry hulle 22%. Dan kom kiesers na ons en sê hulle het daarom vir die DA gestem; hulle moes eerder vir ons gestem het."
Mulder sê nog 'n rede het met koalisies te make.
"Ons het altyd gesê koalisies is die antwoord en die meeste mense het ons nie geglo nie. Hulle het geval vir die argument jy gaan jou stem mors.
"Daardie debat is nou afgehandel: Jy kan nie jou stem mors nie. Die mense verstaan ook nou hoe koalisies werk."
Mulder sê oudpres. Jacob Zuma, die EFF en Black First Land First (BLF) het ook 'n rol gespeel.
"Die DA was heeltyd so tussendeur die kwessies, en die kiesers het gesien die VF Plus is bereid om reguit te praat," sê hy.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die vloeibaarheid van die Afrikaanse stem beteken geen party kan dié stemme as 'n gegewe aanvaar nie.
"Hulle sal in die toekoms hard moet werk om dié stemme te bekom."
'n Blik op die kiessyfers in Gauteng wys die VF Plus het by feitlik elke stempunt in tradisionele wit gebiede in die provinsie gegroei.
By die stempunt Laerskool Stephanus Roos in Sinoville, Pretoria, het die DA 1 099 stemme verloor, en die VF Plus 607 bygekry. By die Laerskool Bakenkop-stempunt in Wierdapark, Centurion, het die DA 1 931 minder stemme behaal, en die VF Plus 523 meer. By die Nederduits Gereformeerde kerk in Faerie Glen was die DA-verlies 1 303 en die VF Plus-wins 349. By die Laerskool Boskop in Honeydew in Johannesburg het die VF Plus 40% van die stemme gekry.
"Dis interessant, want Johannesburg is 'n moeilike plek om te presteer," sê De Necker.










