Verkiesings 2019

BLF skop vas oor ‘geen wittes’

Die BLF het Woensdag weer gesê wittes is nie welkom in sy geledere nie.

Andile Mngxitama, leier van Black First Land First, het in Johannesburg by 'n nuuskonferensie gereageer op die VF Plus se aansoek by die Verkiesingshof om die BLF se naam van 8 Mei se stembrief af te kry.

"Waarom sou ons dit doen?" het hy gevra oor die partybeleid dat wittes nie lede mag word nie.

"As daar witmense is wat met ons saamstem, kan hulle hul eie organisasies stig wat vir die bevryding van swartes stry. Die probleme wat ons hier oplos, is deur wittes veroorsaak."

Die VF Plus voer aan die BLF se beleid is 'n oortreding van artikel 16(1)(c) van die Verkiesingskommissiewet, wat bepaal dat die Verkiesingskommissie (OVK) nie 'n politieke party mag registreer indien sy lidmaatskap deur ras, kleur of etnisiteit bepaal word nie.

Ons is 'n revolusionêre beweging vir swart mense.

—  Andile Mngxitama

"Ons is nie 'n parlementêre party nie," het Mngxitama daaroor gesê.

"Ons is 'n revolusionêre beweging vir swart mense."

Hy het gesê hulle het reeds hul beantwoordende verklarings by die hof ingedien.

Die VF Plus vra die hof om die OVK se besluit om BLF wel as politieke party te registreer, om te keer.

Wouter Wessels, die party se verkiesingshoof, het Woensdag gesê die aansoek sal Maandag in die hooggeregshof in Johannesburg aangehoor word.

"Ons het ons betooghoofde vandag ingedien.

"Die OVK moet aan sy eie wet voldoen en kan nie die demokrasie ondergrawe nie. Net omdat die verkiesing om die draai is, mag die BLF nie toegelaat word om die wet te oortree nie."

Bonolo Selebano

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM