Cyril nié SA se redder, sê Maimane

Kiesers moenie 'n fout maak deur te dink pres. Cyril Ramaphosa is Suid-Afrika se redder nie, sê Mmusi Maimane, DA-leier.

Maimane het Saterdag gepraat op sy party se laaste saamtrek in Soweto, Johannesburg, voordat die nasionale verkiesing Woensdag plaasvind.

Die ander twee groot partye - die ANC en die EFF - se onderskeie saamtrekke vind Sondag plaas.

Mmusi Maimane het allerlei beloftes van die DA gemaak. Foto: Deaan Vivier
Mmusi Maimane het allerlei beloftes van die DA gemaak. Foto: Deaan Vivier

Maimane het op die DA-saamtrek aan duisende ondersteuners in die Dobsonville-stadion gesê Ramaphosa is altyd "geskok" wanneer daar onthullings oor korrupsie gemaak word.

"Maar hy (Cyril) was daar toe oudpres. Jacob Zuma en die Guptas gemaak het wat hulle wil en hy het niks gedoen nie," sê hy.

"As jy stem vir Cyril, stem jy vir korrupsie. Hy gaan ons land nie help nie. Die volgende keer wat Cyril geskok sal wees, is op 8 Mei by die stembus," sê Maimane.

Ondersteuners reageer in Soweto. Foto: Deaan Vivier
Ondersteuners reageer in Soweto. Foto: Deaan Vivier
Maimane het sy eie pryssanger gehad. Foto: Deaan Vivier
Maimane het sy eie pryssanger gehad. Foto: Deaan Vivier

Volhoubare ekonomiese groei sodat daar " 'n werk in elke huis kan wees", 'n groter kinderstaatstoelaag, die uitroeiing van korrupsie en goedkoper petrol is van die beloftes wat Maimane aan die skare gemaak het.

"Ek weet baie van julle wat hier is se familielede gaan vir dieselfde party stem bloot omdat dit nog altyd só gewerk het. Moenie dat jou vrees jou besluit bepaal nie en stem vir verandering.

"Plaas ons aan bewind in Gauteng en as ons nie presteer nie, stem ons uit. Gee ons 'n kans," het Maimane gesê.

Die DA hoop om ná die verkiesing beheer van Gauteng en die Noord-Kaap te kry, en wil ook sy volstrekte meerderheid behou wat hy in die vorige verkiesing in die Wes-Kaap behaal het.

Die jongste peiling deur die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) en die DA se eie interne peilings wys dat die ANC se steun in Gauteng tot onder 50% kan daal, wat 'n DA-beheerde koalisieregering in die provinsie moontlik maak.

Ondersteuners in die Dobsonville-stadion. Foto: Deaan Vivier
Ondersteuners in die Dobsonville-stadion. Foto: Deaan Vivier
Maimane kom by die saamtrek aan. Foto: Deaan Vivier
Maimane kom by die saamtrek aan. Foto: Deaan Vivier

Solly Msimanga, DA-premierskandidaat in Gauteng, het by die saamtrek aan Netwerk24 gesê die DA in Gauteng sal nie ná die verkiesing 'n koalisievennootskap met ander partye aangaan wat in eie belang optree nie.

Sy party het ná die 2016- munisipale verkiesing met die EFF saamgewerk om beheer van Tshwane en Johannesburg by die ANC af te vat. Msimanga sê hy wil nie gesprekke oor koalisies vooruitloop voordat kiesers hul kruisies by die stembus getrek het nie.

Hy sê daar moet nou nie gepraat word oor met watter partye die DA moontlik kan saamwerk nie, maar eerder oor hoe koalisies aangepak moet word.

"Ons soek nie louwarm koalisievennote wat in eie belang optree nie. Die mense moet eerste gestel word.

"Die DA sal van die onderhandelingstafel wegloop en eerder die opposisieparty bly as om met sy waardes weg te doen om 'n ander party tevrede te stel," sê Msimanga.

Athol Trollip vroeër op die verhoog. Foto: Deaan Vivier
Athol Trollip vroeër op die verhoog. Foto: Deaan Vivier
Ook Luyolo Mphithi was in die voorste gestoeltes toe die DA hul verkiesingsaamtrek afsluit. Foto: Deaan Vivier
Ook Luyolo Mphithi was in die voorste gestoeltes toe die DA hul verkiesingsaamtrek afsluit. Foto: Deaan Vivier

SPELETJIES VANDAG

CTA