Verkiesings 2019

DA, ANC vry kliphard na Wes-Kaapse kiesers

Met net ses dae oor voor die algemene verkiesing vry die ANC en die DA hárd na Wes-Kaapse kiesers.

Die twee partye het hul topleiers ontplooi in 'n verbete stryd om politieke beheer oor die provinsie.

Pres. Cyril Ramaphosa is geskeduleer om Vrydag wéér in die provinsie stemme te werf. Hy gaan Mitchell's Plain, Guguletu en Khayelitsha besoek. Dít kom kort nadat Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, Jessie Duarte, adjunk-sekretarisgeneraal, én Paul Mashatile, tesourier-generaal, die provinsie in een enkele week besoek het.

Faiez Jacobs, die ANC se provinsiale sekretaris, Andile Lili, ANC-raadslid, en Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC vroeër vandeesweek in Khayelitsha. Foto: Adrian de Kock
Faiez Jacobs, die ANC se provinsiale sekretaris, Andile Lili, ANC-raadslid, en Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC vroeër vandeesweek in Khayelitsha. Foto: Adrian de Kock

Ook die DA het sy topleiers ingespan. Mmusi Maimane, DA-leier, het Woensdag 'n volgepakte Werkersdag-saamtrek by Century City toegespeek. Helen Zille, Wes-Kaapse premier, sowel as Alan Winde, DA-premierskandidaat, wat ook op dié geleentheid gepraat het, het ondersteuners aan hul lippe laat hang. Nuwe reklameborde is die afgelope weke deur die party bekend gestel.

'n Meningspeiling wat deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIR) gedoen en Dinsdag in Johannesburg bekend gemaak is, toon dat die DA se steun in die Wes-Kaap aan die daal is. Die DA geniet volgens dié peiling 44,6% van die steun teenoor die 27,8% vir die ANC, 7% vir die ACDP en 6,8% vir die EFF.

Mmusi Maimane Foto: Malherbe Nienaber
Mmusi Maimane Foto: Malherbe Nienaber (Malherbe Nienaber)

Winde het Woensdag met verwysing na die gevaar dat die party sy meerderheid in die Wes-Kaap verloor, in 'n e-pos aan inwoners van die provinsie gesê die volgende week gaan bepalend wees vir die party. Dit kan die verskil beteken tussen 'n DA-beheerde Wes-Kaap en 'n ANC-EFF-koalisieregering. "Ons kan nie dat die ANC-EFF-koalisie van korrupsie wen nie! Ons moet verenig om korrupsie uit ons provinsie te hou en ons moet DA stem op Woensdag 8 Mei."

Politieke kenners het Woensdag gesê hulle dink die DA sal waarskynlik weer die grootste hap van die steun in die Wes-Kaap kry, hoewel dit waarskynlik is dat sy stempersentasie kleiner sal wees.

Prof. Bheki Mngomezulu, politieke kenner aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), glo dat die DA weer die grootste party in die provinsie sal wees.

"Die situasie is dieselfde as op nasionale vlak waar die ANC ondanks al sy probleme steeds die verkiesing gaan wen. Of die party dit op sy eie gaan doen, is debatteerbaar. Die DA sal steeds die verkiesing in die Wes-Kaap wen, waar hy dominant is. Dit is egter moeilik om te sê of dit met 'n volstrekte meerderheid sal wees, maar die persentasie stemme wat hy trek, sal laer wees."

Die party kan volgens Mngomezulu stemme aan die Good-party van Patricia de Lille, asook aan die ANC, afstaan.

"Die manier waarop die DA die kwessie oor Zille se twiets oor kolonialisme en die De Lille-sage gehanteer het, kan hom stemme kos. Die ander faktor is natuurlik ook die reaksie op Mmusi Maimane, DA-leier, se uitsprake oor wit bevoorregting, wat getoon het dat sommige DA-leiers steeds konserwatief is. My mening is dat dié kwessies waarskynlik sal veroorsaak dat sommige DA-kiesers vir die ANC sal stem."

Die DA kan 'n koalisie met 'n kleiner party vorm, maar waarskynlik nie met die EFF nie omdat sy werksverhouding met dié party elders nie werk nie. Hul eerste opsie sal 'n kleiner party soos die ACDP wees, meen Mngomezulu.

Prof. Amanda Gouws, politieke kenner aan die Universiteit Stellenbosch, sê die Wes-Kaapse verkiesingsuitslag gaan grootliks van die stemopkoms afhang. "Ek sou sê as die stemopkoms 60% of hoër is, gaan die DA steeds wen. As die DA minder as 50% van die steun ontvang, sal hy waarskynlik met 'n kleiner party in koalisie gaan. Kleiner partye speel steeds 'n groot rol op provinsiale vlak, mense is vertroud met hulle en hul leiers."

Gouws glo egter nie dat De Lille beduidende steun by die stembus sal ontvang nie. "Ek dink nie sy sal meer as 1% kry nie . . . dit is 'n nuwe party en sy het basies geen veldtog gevoer nie. Good mag dalk een of twee setels in die wetgewer kry."

Die ANC kan volgens haar sowat 30% van die steun in die Wes-Kaap opraap. "Die DA se probleem is 'n persepsie-probleem oor die swak wyse waarop hy die De Lille-kwessie gehanteer het. Ek dink kiesers gaan hul stemme verdeel - hulle gaan DA stem op provinsiale vlak en ANC op nasionale vlak. Die stem vir die ANC op nasionale vlak gaan daaroor dat hulle wil voorkom dat die ANC minder as 50% kry, wat 'n koalisieregering op nasionale vlak sal noodsaak. Die diskoers op die oomblik is dat as meer mense vir die ANC stem, Ramaphosa die president van die land sal bly. Wat mense egter nie besef nie is dat jy vir 'n party en nie vir 'n president stem nie."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM