Verkiesings 2019

DA verswak, maar is ‘tevrede’

Die DA is ondanks dat hy minder steun as voorheen gekry het, tevrede met sy vertoning in die nasionale verkiesing.

Die party is boonop verheug omdat hy die Wes-Kaap gemaklik behou het, sê Solly Malatsi, nasionale woordvoerder van die DA.

Hy het in 'n regstreekse uitsending van Netwerk24 vanuit die nasionale uitslagsentrum in Pretoria, erken een van die groot uitdagings is hoe om nie te vervreem van sy tradisionele ondersteuners wat hom oor die jare heen deur verkiesings gedra het.

"Ek glo dit is moontlik om dit te doen en terselfdertyd nuwe ondersteuners uit ander gemeenskappe te lok," sê Malatsi.

"Ons moet dit wat ons te bied het, aantreklik maak vir ons tradisionele ondersteuners."

Groot getalle kiesers wat voorheen vir die DA gestem het, het dié keer hul kruisies agter die VF Plus getrek.

Malatsi sê "identiteitspolitiek" is ‘n wêreldwye verskynsel wat ook in Suid-Afrika voorkom, maar die DA wil nie by dié soort politiek betrokke raak nie.

Mmusi Maimane, DA-leier, Donderdagaand op besoek aan die nasionale uitslagsentrum in Pretoria. Foto: Felix Dlangamandla
Mmusi Maimane, DA-leier, Donderdagaand op besoek aan die nasionale uitslagsentrum in Pretoria. Foto: Felix Dlangamandla

Die DA glo hy het steeds iets unieks om te bied.

"Ons visie is om die middeweg te volg omdat ons glo omdat ons hier is vir langtermyn," sê Malatsi.

Die DA het nou ná die verkiesing die geleentheid om terugskouend te kyk na wat ons kon doen om beter te doen.

"Natuurlik is daar vir ons lesse te leer uit die verkiesing. Daar is altyd iets om te leer," sê Malatsi.

Hy sê die positiewe vir die DA uit die verkiesing is dat hy kiesers gelok het uit gemeenskappe wat in die verlede nie moontlik was nie.

Hy het erken die party het 'n "moeilike jaar agter die rug", maar sy blik is steeds op die toekoms.

"Ons het ons bes gedoen om dié moeilike hoofstuk te oorkom. Ek weet baie mense sal sê dit was 'n bietjie te laat.

"Ons weet daar sal struikelblokke op die pad wees, maar ons sal dit oorkom," sê Malatsi.

"Suid-Afrikaners wil nie 'n verdeelde land hê nie. Hulle kort 'n boodskap van hoop en dit is wat ons met die verkiesing probeer bring het."

Een van die lesse wat die party uit die afgelope verkiesing geleer het, is dat hy in die toekoms sy eie identiteit moet ontwikkel en hom onderskei van ander partye, sê Malatsi.

"Ons moet aanhou doen wat ons uniek maak."

In antwoord op 'n vraag van Gert van der Westhuizen, stemme-redakteur van Netwerk24 wat die gespreksleier was, of die DA nie 'n fout gemaak het om te veel te fokus op die foute van sy teenstanders, pleks daarvan om sy eie suksesse te gebruik om kiesers te lok, het Malatsi gesê die DA het dit nie doelbewus gedoen nie.

"Dit word gedoen om jouself te onderskei van die ander partye. Daar moet 'n balans wees in wat jy doen."

Die party sal ná die verkiesing terugkyk na hoe hy dinge beter kon doen. Daaruit kan ons lesse leer vir die toekoms."

Roland Henwood, 'n politieke wetenskaplike van die Universiteit van Pretoria, sê wat vir hom uitgestaan het van die DA se veldtog is die manier hoe die party 'n baie diverse en komplekse situasie hanteer het.

"Maar, as ek die DA moes advies gee, sou ek aan hulle gesê het hulle moes baie meer gefokus het op dit wat hulle bereik het daar waar hulle regeer."