Dit is omdat die DA bekommerd is dat hy Afrikaanse kiesers afstaan aan die VF Plus dat hy dié party nou met 'n vuil propagandatruuk probeer bykom, sê Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus.

Mulder was die afgelope week woedend omdat die DA 'n pamflet op George in die Suid-Kaap versprei het waarvan die een kant in die groen en oranje van die VF Plus gedruk is en die ander helfte in DA-blou.
Op die groen bladsy verskyn 'n foto van Pieter Groenewald, die partyleier, saam met Peter Marais, die DA se Wes-Kaapse premierskandidaat, en aanhalings wat toegedig word aan Marais.
‘As hulle ons dan 'n klein party noem, hoekom sulke goed doen?'
"Die belange van die bruin volk is heel eerste op my agenda nou en vir altyd," het Marais volgens die DA-pamflet op 3 Oktober 2018 op Facebook gesê.
Volgens die DA het Marais op 9 Junie 2018 geskryf: "Wittes kan ons nie meer lei nie. Hulle sal òf by ons moet aansluit òf ons sal dit alleen aandurf. In die verlede het hulle ons te veel gestop." Dié Facebook-plasing is egter intussen verwyder.
Mulder sê die DA-pamflet is moedswillig, want Marais was destyds nog 'n lid van die Independent Civic Organisation of South Africa (Icosa). Hy het in Oktober verlede jaar uit dié party bedank.

Marais het wel op 13 Junie verlede jaar op Facebook geskryf dit is "slegs die VF Plus wat ons (bruin mense se) saak wil ondersteun".
Die DA-pamflet vra dat kiesers vir die DA se Donovan Gultig in die tussenverkiesing in George se Wyk 18 stem. Mulder sê die DA het kiesers probeer mislei deur die pamflet na 'n VF Plus-dokument te laat lyk. "As hulle ons dan 'n klein party noem, hoekom sulke goed doen?"
Dirk Linde, DA-woordvoerder, sê die DA het besluit om die pamflet ook in die VF Plus se kleure te druk omdat Marais se "bi-sarre" verklarings VF Plus-ondersteuners in die Wes-Kaap bekommerd behoort te maak.

Oor Mulder se klagtes sê Linde die VF Plus "het klaarblyklik nie 'n behoorlike risiko-evaluering van hul premierskandidaat in die Wes-Kaap gedoen nie".
Gultig is toe Woensdag met 73% van die stemme tot wyksraadslid vir Wyk 18 gekies. DA-steun het egter met 19 persentasiepunte gedaal sedert die vorige tussenverkiesing. Die VF Plus se steun het skerp geklim van 3% tot 17%.
Die politieke ontleder Dawie Scholtz het op sosiale media gesê dit is 'n bewys dat "konserwatiewe Afrikaanse kiesers" van die DA oorloop na die VF Plus.
Jonathan Moakes, bestuurder van die DA se nasionale kiesveldtog, het dit toegegee maar aan Jan de Lange gesê hy is nie bekommerd daaroor nie.
In die vier tussenverkiesing vanjaar waaraan sowel die DA as die VF Plus deelgeneem het, het die VF Plus sy steun in drie wyke met dubbelsyfers verbeter en in net een steun verloor. Die DA het wel beter gevaar in ander verkiesings.
* In Stellenbosch het pres. Ramaphosa se mooipraatjies Dinsdag geen uitwerking gehad in Wyk 9 nie. Die DA het 99% (+5) behaal.
* In die Hessekwa-munisipaliteit het die DA 'n wyk wat voorheen in ANC-beheer was, Wyk 4, gewen met 55% (+20).
* Die DA het ook sy vertoning verbeter in Wyk 2 in Graaff-Reinet in die Oos-Kaap deur 79% (+3) van die stemme te wen.
* Aan die Wes-Rand het die DA Wyk 8 behou en sy stemme met vyf punte opgestoot tot 50%.
















