Verkiesings 2019

De Lille: DA-reaksie tipiese ‘baasskap-mentaliteit’

Patricia de Lille, leier van die Good-party, het die DA van "tipiese arrogansie" en " 'n baasskap-mentaliteit" beskuldig.

Dit volg op die DA se reaksie nadat die Verkiesingskommissie (OVK) dié party opdrag gegee het om De Lille binne drie dae in die openbaar om verskoning te vra omdat hulle gesê het sy is as burgemeester van Kaapstad afgedank.

Patricia de Lille, leier van die nuutgestigte Good-party. Foto: Jabu Kumalo
Patricia de Lille, leier van die nuutgestigte Good-party. Foto: Jabu Kumalo (Foto: Jabu Kumalo/Netwerk24)

"Vir hulle om te sê hulle het my afgedank, is 'n blou, blou leuen," het De Lille Woensdag by navraag gesê.

Solly Malatsi, DA-woordvoerder, het gesê die party neem kennis van die OVK se beslissing.

"Ons raadpleeg egter ons regsverteenwoordigers omdat ons van mening is dat die beslissing deur die OVK 'n inkonsekwente toepassing van die gedragskode vir die verkiesing is."

Verskeie klagte is deur die DA teen ander politieke partye by die OVK ingedien, maar dit was onsuksesvol.

"Die OVK was ontstellend inkonsekwent en traag om die dringende klagte te ondersoek. Daarom is die beslissing by ons regsverteenwoordigers omdat dit eenvoudig nie konsekwent is met die beslissings en spoed van ondersoeke tot dusver nie," het Malatsi gesê.

Die party staan by sy uitsprake oor De Lille.

De Lille het Woensdag opgemerk dat die DA nooit glo hy is verkeerd nie. "Dit toon die tipiese arrogansie van die DA en die gereelde baasskap-mentaliteit wat hy het.

" 'n Week gelede het die OVK in die party se guns beslis oor 'n klag teen die verkiesingsplakkate van Good en ander partye, wat ons reggestel het. Dit is tipies van die DA om die aandag van homself af te lei," meen sy.

De Lille het die OVK se beslissing verwelkom.

Sy "moes noodgedwonge 'n groot gedeelte van die afgelope twee jaar" daaraan bestee om haarself teen "gemene en valse leuens" deur die DA te beskerm.

"Benewens die OVK-kwessie moes ek die DA drie keer hof toe neem om die party daarvan te weerhou om my reputasie te skaad, en ek het elke saak gewen. Daar is ook vier hangende lastersake teen individuele DA-lede."

Die OVK het die DA volgens De Lille kans gegee om op haar klagte te reageer.

"Die OVK het vir hulle bewyse gegee dat ek bedank het. Hulle weet dit is die waarheid. Hulle moet leer om die waarheid te praat. Ek het drie maande kennis gegee voordat ek bedank het."

Sy het opgemerk die DA "word deur sy haat vir haar gedryf. Ek word nie gedryf deur haat nie. Ek soek geregtigheid."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM