
Patricia de Lille, leier van Good, soek weer 'n hofinterdik wat die DA dringend moet verbied om verdere "leuens" oor haar te versprei.
De Lille het Maandag gesê haar jongste hofaansoek teen die DA volg nadat die Verkiesingskommissie (OVK) op 17 April bevind het dat die DA haar binne drie dae in die openbaar moet om verskoning vra en dadelik moet ophou om te sê sy is vroeër as DA-burgemeester van Kaapstad afgedank.
Dit volg glo nadat die DA die personeel in sy inbelsentrum opdrag gegee het om kiesers te vertel dat die DA De Lille afgedank het.
Vroeër is berig dat die DA aangedui het hy beplan om teen die bevinding te appelleer.
Solly Malatsi, DA-woordvoerder, was nie Maandag vir kommentaar oor die nuutste verwikkelinge beskikbaar nie.
"Die DA het die boodskap geskryf wetend dat dit vals is. Dit beteken hulle het die Kieswet en gedragskode vir die verkiesing verbreek.
"Die OVK het hulle beveel om hulle daarvan te weerhou om die boodskap te gebruik en om my binne drie dae om verskoning te vra.
"Die DA het geweier om dit te doen en het eerder besluit om 'n aansoek in te dien om die OVK se besluit te laat hersien," het De Lille Maandag in 'n verklaring gesê.
Volgens haar streef die DA met sy hersieningsaansoek daarna om voort te gaan met sy "kwaadwillige leuens teenoor my en ek sal nie daarvoor staan nie".
Volgens haar streef die DA met sy hersieningsaansoek daarna om voort te gaan met sy "kwaadwillige leuens teenoor my en ek sal nie daarvoor staan nie".
Sy het bygevoeg dat die DA die reg het om die OVK se besluit te laat hersien, maar dat hy nie die reg het om voort te gaan om vals stellings oor haar te maak nie.
"My prokureurs het die DA gevra om my 'n onderneming te gee dat hulle sal ophou om die vals boodskap dat hulle my afgedank het, te gebruik tot 'n hof 'n bevinding oor die OVK-besluit geneem het.
"Die DA het onredelik geweier om dit te doen en dit het my gedwing om weer die howe te nader. Die DA publiseer vals stellings oor my met die doel om kiesers se keuse en die uitslag van die verkiesing te beïnvloed.
"Dit is 'n skending van die reg van Suid-Afrikaners tot vrye en regverdige verkiesings," het De Lille gesê.



















