Gietende reënweer, 'n tekort aan stembriewe en die wegblystem.
Dít is die drie hoepels waardeur die twee grootste politieke partye in die Wes-Kaap Woensdag moes spring om soveel as moontlike stemme op hulle te verenig.
Of hulle egter genoeg gedoen het, sal eers Donderdag duideliker word wanneer die uitslae van stemdistrikte stuk-stuk na die Verkiesingskommissie (OVK) se provinsiale en nasionale uitslagsentrum begin deursypel.

Op die Kaapse Vlakte - was as die Wes-Kaapse "koningmaker" beskou word - het die regerende DA en ANC 'n verwoede stryd gevoer om soveel kiesers as moontlik by die stembus te kry om vir hulle te stem.
Mmusi Maimane, DA-leier, het Woensdagoggend eers in Dobsonville, Soweto, gestem en toe Solly Msimanga, DA-premierskandidaat in Gauteng, vergesel wat in Pretoria gestem het.
Maimane het daarna na Kaapstad gevlieg en saam met Alan Winde, Wes-Kaapse DA-premierskandidaat, kiesers in Mitchells Plain, Athlone en Bellville-Suid gaan aanmoedig om die "Kaap blou te hou".
In die provinsiale ANC is daar ook 'n geskarrel en strydrosse soos Denis Goldberg en Ebrahim Rasool is veral op die Kaapse Vlakte ingespan om kiesers tot 'n stem vir die ANC oor te haal.

Eerw. Courtney Sampson, Wes-Kaapse OVK-voorsitter, het in die provinsiale uitslagsentrum in die Century City-konferensiesentrum bevestig dat die eendeweer die stemopkoms in die provinsie beïnvloed het.
Die OVK het selfs die hulp van die Stad Kaapstad se rampbestuur- en veiligheidsowerhede ingeroep om veral ligte te verskaf waar mense tot laat in die nag moes wag om te kon stem.
Op die vraag oor wat die stemopkoms omstreeks 15:30 Woensdag was toe Sampson sy mediakonferensie gehou het, het hy gesê hoewel hy nie graag wil bespiegel nie, kon dit "rofweg" in die omgewing van 20% en 25% wees. Hy was egter hoopvol dat dit later die dag sou optel.
Volgens Sampson het niks sy OVK-span egter voorberei op die aantal mense wat Woensdag - ook weens die reënweer - nie gaan stem het in die stemlokale waar hulle geregistreer is nie.
Dit het in die stemlokale gelei tot 'n tekort aan stembriewe - asook aansoekvorms om by 'n ander stemlokaal te stem. Dit het tot ure se vertragings by sommige stemlokale gelei, veral omdat die polisie die vervoer van die stembriewe moes vergesel. Sampson het gesê die probleem is later opgelos.

Hy het gesê die OVK hoop om teen Donderdag al die uitslae in die provinsie te begin tel.
Intussen het Maimane Woensdagmiddag in Bridgetown, Athlone, gesê hy is glad nie bekommerd dat kiesers in veral Mitchells Plain nie vir die DA gestem óf weggebly het nie.
Sy boodskap aan die ondersteuners daar was dat hulle "die Kaap blou moet hou".
Volgens hom het die DA se veldtogwerkers in die Kaap hulle ingelig dat "dinge goed vir die DA lyk".
"Die DA is glad nie bekommerd dat die ANC óf enige ander party stemme van ons sal afrokkel nie. Die DA het dag en nag in alle Wes-Kaapse gemeenskappe gewerk."
Op die vraag oor of die DA al 'n moontlike koalisieregering in die Wes-Kaap oorweeg het, het Maimane gesê: "Die DA is hier om te wen."
Hy was ook by die Meadowridge Primary School in Lentegeur, Mitchells Plain, waar 4 207 kiesers geregistreer is. Gister om 18:00 het net meer as die helfte van die geregistreerde kiesers reeds daar hul kruisies getrek.











