Verkiesings 2019

Eenstemmigheid oor oudit ná dubbelstemmery

Die Verkiesingskommissie (OVK) gaan 'n oudit doen van stemme en uitslae by stembusse waar daar gerugte was oor mense wat meer as een keer gestem het.

Volgens die OVK is 20 mense in hegtenis geneem ná bewerings van dubbelstemmery.

Iemand wat hulle hieraan skuldig maak, kan tot tien jaar tronkstraf opgelê word, sê die OVK.

Politieke partye het Donderdag ingestem tot so 'n ondersoek.

"Die oudit van stempunte waar daar bewerings van dubbelstemme is, sal 'n statisties verteenwoordigende steekproef van stempunte insluit, asook al die stempunte waar daar bewerings van dubbelstemme is," sê Mosotho Moepya, 'n OVK-kommissaris.

Die wet laat sewe dae daarvoor toe.

Kiesers het beweer dat hulle maklik die ink aan hul linkerduim, wat deur die kiesbeamptes aangebring is wanneer 'n mens stem, kon afkry om weer by 'n ander stempunt te gaan stem nadat hulle daar dan net 'n VEC4-vorm geteken het. Die vorm is 'n beëdigde verklaring dat 'n kieser by 'n ander stempunt geregistreer is.

Die DA het Donderdag vir 'n oudit gevra by alle stembusse ná die verskeie bewerings van mense wat twee keer gestem het.

James Selfe, federale voorsitter van die DA, sê sy party het verskeie vertellings van kiesers gehoor oor gebreke by die stempunte wat dit maklik gemaak het om meer as een keer te kan stem.

Ongeveer 200 000 penne is vanjaar gebruik en spesifiek aangekoop omdat dit 20% silwernitraat bevat. In die vorige verkiesing het penne net 15% silwernitraat bevat.

Selfs een van die DA se parlementslede het meer as een keer gestem net sodat sy kan bewys dat dit wel gedoen kan word, het Selfe gesê. Hy het haar nie geïdentifiseer nie.

"Dit is duidelik 'n onaanvaarbare situasie en een wat ons nie kan duld nie.

"Daar sal twyfel oor die uitslag wees tensy 'n oudit gedoen word."

Ook die ATM, waaraan Mzwanele Manyi verbonde is, het by die OVK beswaar gemaak hieroor. Hy het selfs gesê die kleiner partye wil hê dat die verkiesing weer gehou moet word.

Bantu Holomisa, leier van die UDM, sê hy vermoed daar was oortredings in die verkiesing. Hy sê die verkiesing is dalk beknoei.

Vroeër is berig oor 'n onbekende vrou van Barberton, Mpumalanga, wat dit glo dit reggekry het om by drie stempunte in die gebied te stem omdat sy die ink van haar vinger kon verwyder.

'n Vrou in Bloemfontein het ook beweer sy het Woensdag twee keer 'n kruisie getrek en daarmee weggekom.

Sy Mamabolo, hoofkiesbeampte, sê egter die OVK kan 'n dubbelstem vinnig opspoor. Die OVK sal kiesers wat 'n VEC4-vorm geteken het, nagaan met hul identiteitsnommers wat ingeskandeer is.

Tot dan sal alle skanderingsmasjiene veilig gestoor word sodat die data nagegaan kan word.

Hy sê dat die OVK ook die doeltreffendheid van die penne waarmee kiesers se duimnael gemerk is, gaan ondersoek.

Ongeveer 200 000 penne is vanjaar gebruik en spesifiek aangekoop omdat dit 20% silwernitraat bevat. In die vorige verkiesing het penne net 15% silwernitraat bevat.

Moepya sê die ondersoek na die penne sal in samewerking met die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) geskied. - Isabel Venter, Bonolo Selebano en Marietjie Gericke

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM