EFF het ’n lys van eise vir koalisie-gesprekke

Die EFF het 'n lys van ononderhandelbare voorwaardes voordat hy met enige politieke party gesprekke sal voer oor moontlike koalisies.

Só het Dali Mpofu, EFF-voorsitter, Sondag by navraag gesê op die EFF se verkiesingsbyeenkoms in die Orlando-stadion in Soweto, Johannesburg. Die stadion kan 45 000 mense huisves.

EFF-ondersteuners wag dat Julius Malema hulle Sondag in die Orlando-stadion in Johannesburg toespreek. Foto: Felix Dlangamandla
EFF-ondersteuners wag dat Julius Malema hulle Sondag in die Orlando-stadion in Johannesburg toespreek. Foto: Felix Dlangamandla
Dali Mpofu. Foto: Gallo
Dali Mpofu. Foto: Gallo

Peilings toon daar gaan 'n hewige stryd in Gauteng wees. Dié van die Instituut vir Rasseverhoudinge toon dat die ANC se stempersentasie laer sal wees as in 2014 en dat 'n koalisieregering die provinsie se voorland is.

Mpofu sê dit is nie die EFF wat ander partye ná die munisipale verkiesing in 2016 genader het nie. "Die DA het ons gebel, die ANC het ons gebel en gesê hulle wil praat. Ons het gesê ons kan praat, maar hier is waarvoor ons staan: grondonteiening, gratis onderwys, nasionalisering, en ons het 'n paar goed bygevoeg, die volkslied (die verwydering van Die stem) en nou het ons die naamsverandering van die lughawe (om die Kaapstad-lughawe na Winnie Madikizela-Mandela te vernoem) bygevoeg.

"Ons sal saamwerk met enige party, maak nie saak wat die party se naam is nie, wat aan dié eise sal voldoen," het Mpofu gesê.

Julius Malema, EFF-leier, sal later Sondag by die stadion opdaag om 'n toespraak te lewer. Sy ouma, Koko Sarah Malema, is Saterdagoggend in haar huis in Seshego, Polokwane, oorlede.

"Ons topses het gister so drie, vier uur saam met hom deurgebring. Dis moeilik, dit is baie moeilik. Dit is die mens wat hom grootgemaak het. Ons het gepraat en besluit ons moet deurdruk," het Mpofu gesê.

"Nadat ons by hom was, het ons om middernag hier aangekom om die laaste paar goed reg te kry, die stadion te inspekteer. Ons hoop ons besoek het vir hom bietjie krag gegee en ons hoop Suid-Afrikaners sal verstaan waardeur hy gaan."

'n See van rooi barette het die Orlando-stadion Sondag helder geverf. Foto: Felix Dlangamandla
'n See van rooi barette het die Orlando-stadion Sondag helder geverf. Foto: Felix Dlangamandla
Bonolo Selebano

SPELETJIES VANDAG

CTA