Sy inhegtenisneming is 'n geval van waar die "fluitjieblaser" eerder as die oortreder geteiken word, sê Etienne Maré, eienaar van Suburb News, 'n gemeenskapsnuusdiens in Mbombela (Nelspruit).
Maré is Vrydag in hegtenis geneem op aanklagte van die oortreding van die Kieswet. Hy het 'n video gemaak waarin hy Woensdag gewys het hoe maklik dit is om meer as een keer te stem nadat 'n vrou van Barberton aan hom vertel het dat sy drie keer gaan stem het.

Maré sê die inhegtenisneming is 'n geweldige skok. "Die gemeenskap ken my as iemand wat daarop aandring om my feite te bewys en iemand wat nou met die polisie saamwerk om misdaad bloot te lê."
Hy het Vrydag saam met Malinda Halloway in die landdroshof op Barberton verskyn. Sy is die vrou wat op video vertel het hoe sy drie keer gestem het. Haar gesig is verbloem en haar naam is nie deur Maré aan die polisie bekend gemaak nie. "Die polisie het hul eie inligting gebruik om haar te identifiseer," sê Maré.
Hy het aan Netwerk24 vertel hoe hy Vrydag op versoek van die polisie self Barberton toe gery het. "Daar is ek in hegtenis geneem. Ek was bekommerd dat ons nie betyds voor die landdroshof gebring sou word nie en dalk aangehou sou word."
Maré en Halloway is op borgtog van R1 000 elk vrygelaat en moet op 28 Junie weer in die hof verskyn.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het aangedui dat hy ondersoek instel na die inhegtenisneming.
* Dit is onwettig om foto's of videos van enigiemand se stembrief te maak, sê Verlie Oosthuizen, 'n media-kenner van die prokureursfirma, Shepstone & Wylie.
Volgens Oosthuizen kan waarskynlik geargumenteer word dat daar 'n kwessie kan wees met 'n video wat geplaas word van mense wat stem, selfs deur 'n joernalis.
"Die publikasie van inligting oor stemmery moet versigtig gemonitor word, en gedoen word in ooreenstemming gedoen met die Kieswet omdat daar baie spesifieke bepalings daaroor is.
"As die video geplaas is sonder inagneming van die bepalings kan die joernalis aangekla word dat hy die Kieswet oortree het," sê Oosthuizen by navraag.





