Dit is beter om die mag in Gauteng met 'n haarbreedte te behou as om beheer oor Suid-Afrika se ekonomiese hartland te verloor, het pres. Cyril Ramaphosa Sondag gesê.

Ramaphosa het 'n groot skare buite Luthulihuis in Johannesburg tydens die party se Siyabonga-byeenkoms toegespreek.
Hy het ANC-ondersteuners bedank dat hulle die party ondersteun het, ten spyte daarvan dat die ANC nasionaal en in agt provinsies met 'n kleiner meerderheid regeer, met Gauteng net-net op 50,19% (teenoor 2014 se 53,59%).
Ramaphosa het gesê die stryd om Gauteng was die party se grootste uitdaging en dat dit beter was om beheer oor dié provinsie te behou.
"Gauteng was ons grootste uitdaging. Hulle het gedink ons het Gauteng verloor, maar ons het geweet Gauteng sal ons nie faal nie, en op die einde het ons deurgeskraap. Dit maak nie saak hoe jy die eindpunt haal nie, net solank jy dit haal," het Ramaphosa gesê.
Die ANC het 57,50% van die nasionale stemme in die verkiesing behaal, teenoor 2014 se 62,51%.
Die meer as 10 miljoen stemme wat die ANC op hom verenig het, verseker die party van 230 parlementsetels - 19 minder as in 2014.










